26/07/2026
HET JY AL OOIT VIR JOUSELF HIERDIE VRAAG GEVRA?
Is my lewe werklik 'n bewys dat God in my teenwoordig is?
Filippense 1:27; "Laat julle lewenswandel net waardig wees aan die evangelie van Christus..."
________________________________________
Inleiding:
Daar is seker min vrae wat 'n Christen eerliker behoort te vra as hierdie een:
Kan mense Jesus in my lewe sien?
• Nie: "Hoeveel Bybelkennis het ek?"
• Nie: "Hoeveel kere gaan ek kerk toe?"
• Nie: "Hoeveel bediening doen ek?",
• Maar: “Getuig my lewe dat God werklik in my woon?”
Die wêreld lees dikwels nie die Bybel nie..., Hulle lees ons.
Paulus het verstaan dat elke Christen 'n lewende brief van Christus is in:
2 Korinthiërs 3:2-3; "Julle is ons brief... geskrywe... deur die Gees van die lewende God."
________________________________________
1. Paulus het nooit sy verwondering oor genade verloor nie
Wanneer ons Paulus se briewe lees, ontdek ons iets besonders.
Hy praat nooit asof God hom iets geskuld het nie.
Inteendeel...
Hy bly verstom dat God hom ooit gered het.
Hy noem homself in:
1 Timotheüs 1:15; "die grootste van die sondaars."
Hy vergeet nooit waaruit God hom gered het nie.
Hy leef nie om God se liefde te verdien nie..., Hy leef omdat hy reeds God se liefde ontvang het.
Dit verander alles.
________________________________________
2. Die Evangelie verander nie net ons bestemming nie, dit verander ons lewe.
Paulus skryf in:
2 Korinthiërs 5:17; "As iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel."
Let op...,
• Hy sê nie: "Hy probeer om 'n nuwe mens te word."
• Hy sê: “Hy is 'n nuwe skepsel.”
Wanneer Jesus 'n mens red..., verander Hy nie net jou adres van die hel na die hemel nie.
• Hy verander jou hart.
• Hy gee nuwe begeertes.
• Nuwe liefde.
• Nuwe prioriteite.
Nie omdat jy jouself verander het nie..., maar omdat Christus nou in jou leef.
________________________________________
3. Die Evangelie was nog altyd God se verborge plan
Paulus skryf in:
Kolossense 1:26-27; "Die verborgenheid wat verborge was van alle eeue... maar nou geopenbaar is..."
En wat is hierdie verborgenheid?, kyk in:
Kolossense 1:27; "Christus in julle, die hoop van die heerlikheid."
Dít is die Evangelie.
• Nie bloot..., “Ek glo in Jesus” nie,
• Maar..., “Jesus leef nou in my”
Dit is die grootste wonder van die Evangelie.
• God woon nou deur Sy Gees in elke gelowige.
________________________________________
4. Voor Christus was ons geestelik dood
Die Bybel beskryf ons toestand sonder Christus baie ernstig, in:
Efesiërs 2:1: "Julle was dood deur die misdade en die sondes."
'n Dooie mens kan homself nie lewend maak nie.
• Hy het nie godsdiens nodig nie.
• Hy het lewe nodig.
En daardie lewe kom net deur Jesus.
________________________________________
5. God het ons nie net vergewe nie...
Hy het ons Sy kinders gemaak.
Paulus sê in:
Romeine 8:16 "Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is."
Ons is:
• Nie meer slawe nie.
• Nie vreemdelinge nie.
• Nie gaste nie.
• Maar, ons is kinders.
Ons roep nou: "Abba, Vader."
Watter ongelooflike genade!
________________________________________
6. Daarom leef ons anders
Dit is belangrik om die volgorde reg te verstaan.
• Ons leef nie heilig..., om kinders van God te word nie.
• Ons leef heilig..., omdat ons reeds kinders van God is.
Heiligheid is nie die wortel van redding nie. Dit is die vrug van redding.
Jesus sê in:
Mattheüs 7:17; "Elke goeie boom dra goeie vrugte."
• Die vrug maak nie die boom lewendig nie.
• Die lewende boom dra die vrug.
________________________________________
7. Kan mense sien dat Jesus in my leef?
Hier is 'n eerlike toets.
Wanneer mense my ontmoet..., ervaar hulle meer van:
• Liefde?
• Geduld?
• Sagmoedigheid?
• Nederigheid?
• Vergifnis?
• Genade?
Of ervaar hulle:
• Bitterheid?
• Hoogmoed?
• Selfsug?
• Woede?
• Oordeel?
Galasiërs 5:22-23; "Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede..."
Die vrug van die Gees is nie iets wat ons probeer vervaardig nie.
Dit is iets wat die Heilige Gees voortbring wanneer ons in Christus bly.
________________________________________
8. 'n Christen behoort die Evangelie mooi te laat lyk
Paulus sê in:
Filippense 1:27; "Laat julle lewenswandel waardig wees aan die evangelie van Christus."
Hy bedoel nie:
• "Word waardig genoeg dat God jou sal red" nie, nee?
Hy sê:
• Leef op 'n manier wat pas by die wonderlike Evangelie wat jy reeds ontvang het.
Die punt is:
• As 'n prins as 'n bedelaar leef..., maak dit die koning se naam klein.
Net so:,
• Wanneer God se kinders leef soos die wêreld..., verberg hulle die heerlikheid van die Evangelie.
Maar wanneer ons met:
• Liefde,
• Nederigheid en
• Genade leef...,
wys ons na die Koning.
________________________________________
9. My lewe is my getuienis
Party mense sal nooit 'n preek hoor nie. Maar hulle sal jou dophou.
Hulle sal sien hoe jy:
• Reageer wanneer iemand jou seermaak.
• Praat oor ander.
• Jou geld gebruik.
• Jou huwelik behandel.
• Jou kinders grootmaak.
• Met vreemdelinge omgaan.
• Op moeilike tye reageer.
En hulle sal besluit of Jesus werklik 'n verskil maak.
Nie omdat ons volmaak is nie..., maar omdat Christus in ons besig is om ons te verander.
________________________________________
10. Die wêreld soek nie volmaakte mense nie!
Soms beeld ons nie regtig Jesus uit nie, want:
• Ons struikel soms.
• Ons maak soms foute.
Maar daar is iets anders.
• Ons bely ons sonde.
• Ons vra vergifnis.
• Ons staan weer op.
• Ons hou aan om Jesus te volg.
En dit is wanneer die lewe van Christus al hoe meer sigbaar word in ons.
________________________________________
Slot:
Ons behoort elke oggend vir onsself hierdie vraag te vra:
As iemand vandag net my lewe sou sien, sou hy iets van Jesus raaksien?
Nie om onsself te veroordeel nie..., maar om onsself weer aan Hom oor te gee.
Mag ons saam met Paulus kan sê, soos in:
Galasiërs 2:20; "Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my."
En mag:
• elke woord wat ons spreek...
• elke besluit wat ons neem...
• elke verhouding wat ons bou...
• en elke dag wat ons leef...
'n stille getuienis wees dat die lewende Christus in ons woon.
Want die grootste bewys dat God in my leef:
• Is nie die woorde wat ek praat nie...,
• Maar die Christus wat mense in my lewe ontmoet.
________________________________________
Gebed vir vandag
Hemelse Vader,
Dankie dat U my nie net vergewe het nie, maar dat U deur U Heilige Gees in my kom woon het.
Dankie dat ek nie hoef te probeer om U liefde te verdien nie, want in Christus het ek dit reeds ontvang.
Here, ek bely dat my lewe nie altyd weerspieël Wie U is nie.
Vergewe my asseblief waar my woorde, my houding of my optrede nie by die Evangelie gepas het nie.
Vorm my al meer na die beeld van Jesus.
Laat die vrug van U Gees sigbaar word in my lewe, sodat mense nie my sal raaksien nie, maar U.
Maak my lewe 'n lewende getuienis van U genade, U liefde en U waarheid.
Mag ek elke dag wandel op 'n wyse wat waardig is aan die Evangelie van Christus, nie om U guns te verdien nie, maar omdat ek reeds U kind is.
Ek bid dit in die Naam van Jesus.
Amen.