06/01/2026
Was jy nog nooit regtig ’n “fees-mens”nie? Dan sal die Vetplantfees by die ou treinstasie op Calitzdorp jou straks ’n ander deuntjie laat sing. Dié saamtrek van die Calitzdorpse Vetplantvereniging groei elke jaar, vertel Buck Hemenway, die hupse 83-jarige voorsitter, en tog voel dit steeds klein en kompak en hanteerbaar met oorgenoeg veilige parkeerplek, skryf Johan van Zyl.
By dié fees word ’n mens herinner hoe iets byna magies gebeur wanneer ’n spul uiteenlopende vreemdelinge met dieselfde obsessie bymekaarkom en vir ’n vale steggies ruil en verkoop en ook glad nie suinig is met hulle kennis en praktiese wenke nie.
Vetplantverslaafdes is natuurlike skattejagters, sê Yvonne Hemenway, Buck se vrou. “As hierdie gogga jou eers gebyt het, sien jy aanhoudend nuwe vorms, kleure en teksture raak, en voor jy jou oë kan uitvee, is daar ‘net nog dié een’ wat jy eenvoudig móét hê.”
Op ’n grootliks Afrikaanse plek soos Calitzdorp val die Hemenways se sterk Amerikaanse aksent ’n mens dadelik op, maar die egpaar is duidelik al gewoond aan die fronse. Hulle het in 2015, ná verskeie besoeke aan Suid-Afrika en Namibië oor die jare (in 2006, 2009, 2011 en 2013), sak en pak Calitzdorp toe getrek. Wat hulle verras het, is dat daar in ’n land waar 47% van die wêreld se vetplante natuurlik voorkom, destyds net een vetplantvereniging was: in Johannesburg.
Daarom het hulle kort daarna saam met vriende die Calitzdorpse Vetplantvereniging gestig en in 2017 ook die Vetplantfees begin. “Daardie eerste jaar was dit maar moeilik om kwekers te oortuig om te kom,” onthou Buck. “Ek d**k daar was altesame 7 stalletjies en teen 11:00 op die eerste dag was al die plante uitverkoop! Etwin Aslander het gelukkig tot ons redding gekom en nog ’n bakkievrag plante by sy kwekery langs die R62 gaan haal.”
Die Hemenways vertel hulle was jare lank professionele vetplant- en kaktuskwekers in Amerika, waar hulle 15 jaar lank die Prickly Palace-groothandelkwekery in Riverside in die suide van Kalifornië bedryf het. Hulle was ook reg oor die land betrokke by die bestuur van talle vetplantverenigings.
“Dis wat gebeur as ’n stokperdjie heeltemal handuit ruk,” grynslag Buck, en Yvonne beaam: “Vra maar die meeste van die kwekers met stalletjies hier by die plantmark... vir omtrent almal van hulle het vetplante as ’n stokperdjie begin en uiteindelik ’n vol- of deeltydse besigheid geword. Noem dit ’n verslawing, as jy wil... die enigste verskil is net niemand stel in rehab belang nie!”
Ontmoet van die kwekers en wat jy alles by dié fees kan ervaar in ons Somer-uitgawe, beskikbaar in winkels en aanlyn: https://bit.ly/3ORFsrr