09/07/2026
Mangaung se wetstoepassing bestaan net op papier, sê DA
Deur Bernell Simons
Die Demokratiese Alliansie (DA) het die Mangaung Metro skerp gekritiseer en voer aan dat die stad se Wetstoepassingsdepartement ná bykans nege jaar van beloftes steeds nie behoorlik funksioneer nie. Volgens DA-raadslid Dirk Kotze skets die metro se jongste Derdekwartaal-prestasieverslag vir Openbare Veiligheid en Vervoer ’n prentjie van sukses deur inspeksies en operasies uit te lig, maar versuim dit om die belangrikste vraag te beantwoord: waar is die sigbare, volledig operasionele wetstoepassingsdiens wat inwoners belowe is?
Kotze sê die departement is volgens ramings met sowat 84% onderbeman, terwyl verskeie beamptes wat reeds hul wetstoepassingsopleiding voltooi het, steeds nie aangestel of ontplooi is nie. Hy beskryf dié situasie as onaanvaarbaar en waarsku dat Mangaung sonder voldoende wetstoepassers nie sy infrastruktuur teen kabeldiefstal en vandalisme kan beskerm, munisipale verordeninge doeltreffend kan afdwing of onwettige storting, onwettige grondgebruik, informele handel en ander oortredings behoorlik kan aanspreek nie.
Hoewel die metro se verslag aandui dat 92 misdaadvoorkomingsoperasies, 248 straatverkope-operasies, meer as 4 100 inspeksies by private sekuriteitsmaatskappye en 14 arrestasies gedurende die kwartaal uitgevoer is, meen Kotze hierdie syfers bied min gerusstelling aan inwoners wat steeds daagliks met onwettige storting, kabeldiefstal, beskadigde infrastruktuur, onwettige besetting van munisipale eiendom en voortdurende oortredings van verordeninge gekonfronteer word.
Hy sê die verslag verwys wel na ondersteuning tydens openbare geleenthede, raadsvergaderings en multidissiplinêre operasies, maar bevat min inligting oor volgehoue buurtpatrollies, die beskerming van munisipale bates of pogings om die publiek se vertroue in wetstoepassing te herstel.
“Mangaung se inwoners verdien sigbare wetstoepassing wat verordeninge afdwing, openbare bates beskerm en veiligheid in elke woonbuurt verseker,” sê Cllr. Dirk Kotze.
Volgens Kotze skep die huidige situasie die indruk dat die metro eerder op selektiewe ontplooiings fokus as om ’n professionele en volledig toegeruste wetstoepassingsdiens op te bou wat alle inwoners gelyk dien. Hy beklemtoon dat wetstoepassing nooit politieke belange moet beskerm terwyl gemeenskappe met swak dienslewering en toenemende misdaad worstel nie.
Die DA sê ’n DA-beheerde Mangaung sal kritieke vakatures vul, opgeleide beamptes onmiddellik aanstel, wetstoepassers sigbaar in al die stad se wyke ontplooi, gespesialiseerde eenhede teen infrastruktuurmisdaad en onwettige storting vestig, tegnologie beter benut en nou saamwerk met die SAPD en gemeenskapspolisiëringsforums.
Kotze glo die herstel van wet en orde is noodsaaklik om dienslewering te verbeter, belegging na Mangaung te lok en die metro weer ’n veilige stad vir sy inwoners te maak. “Mangaung kan nie herstel sonder sigbare, professionele en aanspreeklike wetstoepassing nie,” het hy afgesluit.