10/04/2025
Herstrukturering van die globale handelsorde
Terwyl die res van die wêreld steeds
koorsagtig besig was om ekonomiese
alliansies en handelsroetes te herstruktureer
ná die laaste rondte handelstariewe deur
Amerikaanse president Donald Trump, het hy
op 2 April sy Bevrydingsdag (Liberation Day)-
bom laat bars. Sy aankondiging van ʼn nuwe
reeks swaar handelstariewe beklemtoon die
Withuis se voorneme om die VSA te bevry van
onregverdige handelsooreenkomste en vermeende
handelswanbalanse.
Die nuwe sarsie aankondigings sluit in ʼn
omvattende sarsie wederkerige handelstariewe van minstens 10% op alle goedere wat die
VSA binnekom. Daarbenewens sluit dit verhoogde tariefkoerse in op dosyne handelsvennote
wat tot op hede aansienlike handelsurplusse met die VSA geniet het.
China se uitgebreide voorsieningsketting
Alle Chinese goedere is getref met ʼn 34%-tarief, met drasties verhoogde tariewe van 46%,
49%, en 36% onderskeidelik teen Viëtnam, Kambodja en Thailand, die naburige SuidoosAsiatiese lande. Hierdie nasies het die afgelope aantal jare integrale dele van China se
voorsieningsketting gevorm.
Viëtnam was een van die vernaamste begunstigdes van Trump se handelstariewe tydens sy
eerste presidensiële termyn, met die land se vervaardigingsbedryf wat skerp groei ervaar het.
Baie Chinese vervaardigers het hul bedrywighede na dié land verskuif om die vorige tariewe te
omseil – met ander woorde, Chinese produkte met ʼn “Made in Vietnam”-stempel. Die VSA poog
met hierdie tariewe om China se breër vervaardigingsnetwerk te ontwrig en die herleiding van
goedere deur derdeparty-nasies aan te spreek.
China se reaksie en strategiese heroriëntering
Op Vrydag, 4 April, het China, soos verwag kon word, teruggekap het met hul eie
invoertariewe. Hulle het die handelsoorlog verder aangeblaas met die aankondiging van 34%
tariewe op alle Amerikaanse invoere. Tydens die afkondiging het die Chinese Staatsraad ʼn
beroep op Trump gedoen om die Amerikaanse tariewe op te hef “en handelsverskille op ʼn
gelyke, respekvolle en wedersydse manier op te los”.
China het verder ook die uitvoer van belangrike seldsame minerale beperk. Terselfdertyd het
hulle aangekondig dat sekere Amerikaanse maatskappye verbied gaan word om in die land
besigheid te doen, terwyl Chinese reguleerders goedkeuring vir maatskappye wat in die VSA
wil belê, gaan vertraag. Amerikaanse nywerhede wat produkte van tegnologiese aard soos
rekenaars en elektronika, chemikalieë en farmaseutiese produkte, motors, groothandel, asook
halfgeleiers (semi-conductors) vervaardig, gaan die hardste getref word.
Beijing het waarskynlik reeds die
gevolgtrekking gemaak dat president Trump
van plan is om die tariewe te gebruik om die
Amerikaanse ekonomie afsonderlik te
herstruktureer, eerder as ʼn wapen in die
onderhandelingsproses met handelsvennote.
China se reaksionêre tariewe op Amerikaanse
uitvoere maak dus sin, aangesien Trump
waarskynlik eers na die onderhandelingstafel
sal kom as die Amerikaanse ekonomie daadwerklik
verswak.
China se teen-tariewe tree eers op 10 April in werking, ʼn dag ná Trump se tariewe. Volgens
kenners hier in China is dit Beijing se poging om Trump onmiddellik na die
onderhandelingstafel te probeer lok om ʼn duurder handelsoorlog te voorkom, maar dis hoogs
onwaarskynlik. Op die korttermyn gaan die handelsoorlog die Amerikaanse verbruiker meer
seermaak, aangesien uitvoere na die VSA verlede jaar slegs 2.8%, of ongeveer $524,66 miljard,
van China se BBP uitgemaak het.
China is sedert Trump se eerste presidensiële termyn aktief besig om ekonomiese bande met
ander nasies wat deur VSA-handelsbeleid geraak word, te versterk. Dit sluit ʼn hernude fokus
op verhoudings met voormalige VSA-bondgenote en die uitbreiding van sy invloed in streke
soos Suidoos-Asië en Europa. Die land se omvattende internasionale infrastruktuur- en
handelsontwikkelingstrategie, die “Belt and Road”-inisiatief (BRI) en die versterking van die
Brics-handelsalliansie of ekonomiese pakt, waarvan Suid-Afrika lid is, is ander belangrike
voorbeelde. China het reeds ander opsies geskep, en daar kan verwag word dat die land sal
voortgaan om hulself as ʼn meer betroubare handelsvennoot te posisioneer.
Dis belangrik om te onthou dat die Chinese
ekonomie nie tans dieselfde groei toon as
voor die covid-19-pandemie nie. Ten spyte
van mediaberigte oor China se suksesse in
areas soos tegnologie en elektroniese
voertuigmotorvervaardiging, is
verbruikersvertroue in die res van die
ekonomie tans laag. Om verbruikersbesteding
aan te por het die regering laas maand ʼn nuwe
reeks maatreëls aangekondig, insluitende die
uitbreiding van inruilprogramme, salarisverhogings
in sekere sektore, asook maatreëls om die
eiendomsmark te stabiliseer. Terselfdertyd word baie gedoen om buitelandse beleggers en
besighede terug te lok om hul massiewe binnelandse ekonomie te stimuleer.
Gevolge vir Suid-Afrika en VSA-Afrika-handel
Die handelstariewe tref Afrikalande swaar en bedreig die Agoa-handelsooreenkoms wat
sedert 2000 verskeie ontwikkelende lande se ekonomieë in Afrika ondersteun. Volgens die
ooreenkoms het 32 lande voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark. Suid-Afrika, die
vasteland se grootste uitvoerder na die VSA, is getref met ʼn 30%-tarief op sy goedere. Dit sluit
ʼn 25%-tarief op voertuie en onderdele in en plaas verdere druk op die ekonomie.
Aan die een kant kan verwag word dat China die geleentheid sal gebruik om sy invloed in
Afrika verder uit te brei as die vasteland se belangrikste handelsvennoot. Aan die ander kant is
Suid-Afrika, as ʼn lid van die Brics-handelsalliansie en met goeie verhoudinge met Beijing,
steeds in ʼn voordelige posisie. Dis ʼn gulde geleentheid om ekonomiese verhoudinge met China
uit te brei, veral in die landbousektor. Verlede maand het Wandile Sihlobo, hoofekonoom van
die Suid-Afrikaanse Landbousakekamer, weer ʼn beroep op die regering gedoen om die
uitbreiding van landbou-uitvoere na die reuse China mark te prioritiseer.
China is verantwoordelik vir 11% van die wêreld se landbou invoere, die meeste ter wêreld. Suid-Afrika het die uitvoervermoëns, en kan geposisioneer word as ʼn sleutelverskaffer te midde van al die wêreldwye handelskommelinge. Die Chinese minister van landbou, Han Jun, het in ʼn onlangse toespraak gesê: “As ʼn nasie van 1,4 miljard mense, moet ons op onsself staatmaak om ons bevolking te voed. Ons kan nie op ander afhanklik wees nie. Voedselsekerheid is ʼn prioriteit, en ons moet altyd waaksaam bly.” Hulle het egter
lande soos Suid-Afrika en Brasilië nodig om hul bevolking te voed.
Breër impak op die globale ekonomie
Teen Vrydag het die Amerikaanse aandelemark met 10% geval, die Nasdaq het amper 5%
getuimel en die Dow Jones het meer as 1 600 punte gesak. Aansienlike wisselvalligheid in
wêreldwye markte, verdere inasie, en stygende verbruikerspryse is almal se voorland.
Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) veroorsaak ʼn omvattende 10%-styging in
die Amerikaanse handelstariewe, tesame met vergeldingsmaatreëls, ʼn wêreldwye
vermindering van 0,5% van BBP.
Die goue randjie is dat verskeie lande met die VSA gaan probeer onderhandel voordat die
tariewe in werking tree. Viëtnam, wat swaar getref is, het reeds na die Withuis uitgereik en die
land se leier, To Lam, het aangebied om alle tariewe op Amerikaanse invoere te verwyder. Die
nuus het die aandelepryse van maatskappye wat sommige van hul produkte in Viëtnam
vervaardig, laat styg. So byvoorbeeld het Nike-aandele met 4% verbeter. Alhoewel daar nie
ekonomiese stabiliteit in die nabye vooruitsig is nie, is daar hoop.