04/03/2025
Hulde aan haar pa, Ollie, deur Mariette Olwagen (saam op foto):
Die foto wat ek gister nie kon opspoor nie:
"Kyk, Pa, die amandelboom staan weer in bloei."
In die agterplaas van die huis waar ek grootgeword het, was daar baie vrugtebome. Daar was ook 'n amandelboom wat op die verkeerde tye van die jaar sou bloeisels maak - 'n groot geheimenis. Hier staan ek en my pa voor die towerboom. My pa was 'n briljante man, 'n interessante man, 'n vrolike man, maar sy lewe was nie altyd maklik nie. Met my broer se ernstige outisme het baie swaarkry gekom, soos wanneer Boetie seergekry of as kind enkele kere verdwyn het, pad gevat het berg se kant toe. 'n Ouer se nagmerrie. My ma was die liefde van my pa se lewe en al was hulle baie verskillend, was hulle baie na aan mekaar. Die dag voor sy dood was sy glo baie onrustig, asof iets haar pla, vertel die verpleegsters in frail care my. Haar alzheimers het my pa baie, baie swaar getref. En vir my pa wat, soos die beriggie op die foto op Netwerk24 vertel, "altyd oral gehardloop het" (met sy skouers opgetrek en sy h**p wat uithang), was dit moeilik om op sy oudag maande lank in sy kamer vasgekluister te wees, op suurstof, en met streng doktersbevele dat hy nie te veel mag beweeg nie. Maar ja, hy het grappies gemaak en simpel rympies geskryf, en geglimlag - tot die einde toe.
Maar hy was gereed. Ek weet almal wat hier lees is nie gelowig nie, en verskoon dus maar, maar hy wás. Ek deel dus een van sy gunsteling-Bybelversies:
"Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
"Al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,
"Al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie,
"En die beeskrale sonder beeste wees,
"Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my redder.