11/08/2026
Ek gaan nie vir jou sê dat ek alles uitgesorteer het nie, want ek het nie.
Ek kan nie sê dat ek weet wat môre gaan bring nie, want die kans is groot dat ek net so verras gaan wees soos jy.
Ek gaan nooit probeer raai waar ek volgende week, volgende maand of volgende jaar gaan wees nie, want ek is nog besig om te groei; om te leer, te verander en te word.
Daar is baie dae wat ek eenvoudig doen wat ek kan met wat ek het. Ek leer terwyl ek loop, pas aan soos dinge verander en vat die lewe soos dit kom.
Ek het altyd my doelwitte en planne mooi uitgelê, maar ek het ontdek dat die lewe selde presies volgens plan verloop.
En maak nie saak hoeveel keer dit voel of ek nie gaan slaag nie, of dat alles net te veel raak nie… op een of ander manier vind ek altyd weer ’n pad vorentoe.
Ek gaan nie vir jou sê dat ek nie bang is nie.
Ek is dikwels bang dat ek gaan misluk, verdwaal of seerkry. Maar elke keer, iewers diep binne myself, vind ek weer die moed om aan te hou, om op te staan en verder te veg.
Ek het geleer om op te hou bekommer oor dinge wat buite my beheer is, en eerder die moontlikhede te begin omhels.
Dit is nie maklik nie, en dit was nog nooit nie.
Maar ek begin stadigaan die reis vertrou… dag vir dag, stryd vir stryd.
Dit maak steeds seer wanneer die lewe my platslaan, en ek raak steeds moedeloos wanneer dinge verkeerd loop.
Maar ek weet nou dat ek sterker is as wat ek ooit ged**k het, wyser oor wat ek geleer het, en dapperder oor wat ek moes deurmaak.
Ek kry nie altyd wat ek wil hê nie, maar ek kry altyd wat ek nodig het.
Ek het opgehou vaskyk teen die deure wat toegemaak het, die liefdes wat doodgeloop het en die gebroke harte wat ek moes dra.
En ek het begin soek na die silwer randjie in die moeilike tye, moed in die hartseer en hoop in die reis.
Maak nie saak wat nog oor my pad kom nie, ek gaan my mense steeds met my hele hart liefhê, my hart en siel in alles wat ek doen uitstort, en aanhou glimlag… stap vir stap.
Wanneer ek vandag in die spieël kyk, kan ek nie anders as om te glimlag nie.
Ek is geseënd, dankbaar en, bo alles, gelukkig.
Gelukkig dat ek nooit opgegee het nie.
Dat ek aangehou veg het.
En die meeste van alles.. dat ek aangehou het om ’n lig te wees in ’n wêreld wat soms baie donker kan voel.