11/11/2025
"WILD CAMPING" Langs die WESKUS
As jy van regte wild camping hou – sonder fancy ablusies en net jy, die see en die wind – dan moet jy hierdie roete langs die Weskus van Suid-Afrika ervaar. My eerste stop op die pad van Lutzville af noord was Gert se Baai – en dis ’n gratis kampplek!
Hier is geen vars water, geen toilette en geen krag nie – so sonkrag is jou beste vriend. Kampeerders wat al hier was, het begin om vuurmaakplekke en windskerms te bou met die rotse wat oral lê – dis deel van die plek se karakter.
In Desember raak dit baie besig; mense arriveer vroeg met watertenks en vragmotors vol hout. As jy stilte en ruimte soek, vermy die feestyd – al die mooi kolle is gewoonlik al vroeg in Desember vol.
Jy kan daar uitkom met ’n 4x2, maar ek sal sterk ’n 4x4 aanbeveel. Daar is ook lekker gedeeltes waar jy jou 4x4-vaardighede kan toets en ’n bietjie in die duine speel.
Wees gereed vir die elemente – die wind van die see kant af kan rof wees en die somers warm! Maak seker jou skuiling of tent kan die wind hanteer.
Respekteer die natuur – neem al jou rommel saam, moenie iets uit die see haal wat nie toegelaat is nie. Gedurende seisoen is daar baie kreef, maar hou by die reëls.
Daar is ook gebiede wat afgebaken is vir mynaktiwiteite – moenie daar inry of kamp nie.
Ek het al baie solo trips daar gedoen – dis veilig, stil en ongelooflik mooi. Daar ry wel af en toe mynvragmotors sowat 1 km van die kus af, maar ek het nog nooit probleme gehad nie.
As jy lus is vir egte rus, sout lug en stilte, pak jou 4x4 en gaan ontdek die wilde Weskus.