27/10/2023
L12.co.za
Die nostalgiese jare van swart viniel plate het hier in die middel tagtigs geblyk iets van die verlede te wees met die aankoms van CD. (Kompak Skyf klink dalk na die regte Afrikaans, maar dit maak eenvoudig nie sin nie.) Skielik het almal hulle "plate" in die garage gaan sit, en daarvan vergeet.
Die negentigs het die CD formaat gepromoveer as die medium wat die beste klank lewer (nie noodwendig waar nie); steeds sou speel as hulle gekrap is (nie waar nie), en vir altyd sou hou (glad nie waar nie). Toe kom die 2000s en almal "stream" musiek vanaf Apple Music, Spotify, en ander dienste, en CD word vir meeste 'n museum stuk. Daar het egter iets gekort. Eienaars het begin voel dat hulle nie regtig hulle musiek besit nie. Jy kan jou CD op Apple Music plaas, maar dan is dit daar vêr – dit is nie asof jy daaraan kan raak, die notas lees, en die lirieke volg nie. Buitendien, as jou Apple Music biblioteek iets soos 25 000 liedjies bevat en jy kanselleer jou subskripsie, is hulle almal weg, ongeag hoeveel maande jy daarvoor betaal het.
Mense het begin terug d**k aan hulle ou plate wat in die garage stof vergader. Hier is iets waaraan jy kon vat, die album oopmaak, die plaat op die draaitafel sit, dan op jou bank gaan ontspan, en die lirieke volg. Skielik is "vinyl" terug, en meer as ooit tevore. Die ding van hierdie medium is die tasbaarheid daarvan. Wie onthou nog hoe ons in die jare sewentig en tagtig ge-ooh en ge-ahh het oor Pink Floyd se Dark Side of the Moon? Hier was 'n album aarvan die omslag eenvoudig mooi gelyk het. Eerstens was daar geen inligting op die voorkant nie. Jy het egter onmiddelik die swart omslag met die prisma met die kleure herken. Hierdie kleure het as't ware van die voor kant af binne in die oopvou omslag in geloop, waar dit die hartklop uitgebeeld het wat jy op Snit 1 hoor. Binne in was 'n magdom ekstras. Ek het daardie voubare poster teen my muur geplak, en my verkyk aan die kunswerk. Dan het ek sommer elke stukkie teks aan die binnekant gelees. Ek kon dit met CD doen, maar die ekstras was nie daar nie en die teks miniskuul klein.
Hier noord van die berg is daar sommer baie mense met plate versamelings. Sommige is "audiophiles" en jy hoor hoe hulle uitrusting en plate miljuisende kos. Dan is daar die ouens wie net weer soos van ouds 'n lekker "garage party" wil hou, sy ou Japanese draaitafel uitpak, afstof, en opstel, reg vir pret. Iewers tussen die twee is daar die ouens wie bereid is om 'n paar rand neer te sit vir 'n goeie draaitafel, maar gaan rondsoek vir ou plate, en nie omgee om die oues bietjie skoon te maak nie. Dit is weer 'n kuns op sy eie.