22/08/2025
LEÉ-GAIL STANDAAR SE LEWE NET 12 MAANDE WERD
LADISMITH – Die lewe van die 22-jarige Leé-Gail Standaar, tragies beëindig in ’n motorongeluk op 7 Julie 2024, is in die hof slegs met ’n vonnis van 12 maande tronkstraf vir die oortreder, Nicolas Herchell Nail, vereer. Die besluit het groot verontwaardiging in die Ladismith- en Zoar-gemeenskap ontlok, waar baie meen dat geregtigheid nie behoorlik geskied het nie.
Op 21 Augustus 2025 is Nail in die Ladismith Distrikshof, onder voorsitterskap van regter John Kiewiets, skuldig bevind en gevonnis. Daar was aanvanklik vier klagtes teen hom. Klag twee, dronkbestuur, is teruggetrek weens onvoldoende bewyse. Hy is egter skuldig bevind aan strafbare manslag, waarvoor hy 12 maande tronkstraf opgelê is, sowel as versuim om stil te hou en versuim om aan te meld, waarvoor hy R3 000 boete of ses maande tronkstraf opgelê is. ’n Pleitooreenkoms tussen die twee partye was deel van die hofproses en is in ag geneem tydens die vonnis.
Die staatsaanklaer, Anzell Laubscher, het die beskuldigde se verklaring in die hof voorgelees. Volgens Nail het hy aanvanklik geglo dat hy ’n skaap of ander dier raakgery het. Die passasier in die bakkie, Juanito, was ook onseker. Toe hulle skade aan die voertuig opmerk, het hy steeds geglo dit was ’n dier. Dit was eers die volgende oggend, toe hy saam met Juanito na die toneel teruggekeer het, dat hy die werklikheid ontdek het. Hy het homself later, saam met sy suster, by die Ladismith Polisiekantoor gaan aanmeld, maar is nie onmiddellik gearresteer nie. Die beskuldigde is eers ’n week na die ongeluk formeel gearresteer.
Een van die verklarings wat ingedien is, maar nie as getuienis in die hof gehoor is nie vanweë die pleitooreenkoms, kom van Lindsey Manual, ’n inwoner van Zoar wat die oomblikke kort ná die ongeluk eerstehands beleef het. Sy het vertel hoe sy omstreeks 01:40 wakker was en ’n harde slag gehoor het. Sy het aanvanklik gedink ’n motor het teen ’n boom vasgery en dadelik opgespring om die vensters oop te maak. Dit was pikdonker en al wat sy kon hoor, was die gille van vroue en aanhoudende gehuil. Sy het iets warms aangetrek en by die stoep uitgegaan, waar haar seun haar vertel het dat hy ’n liggaam teen die draad sien lê het. Toe sy daar aankom, het sy die hartverskeurende toneel van Leé-Gail Standaar aangetref. Sy het gesê: “Daar het sy gelê, ’n jong, klein meisietjie, doodstil, haar hare wat in die wind gewaai het. Ek het sommer net daar ’n gebed opgesê en God gevra om haar te beskerm.”
Leyla-Lawi, Leé-Gail se niggie, het gesê dat sy toe by haar gekom het en die toneel gesien het, en hartverskeurend besef het dat Leé-Gail nie meer geleef het nie.
Lindsey het egter ’n handdoek gaan haal en aangehou hoop dat Lee-Gail nog lewe. Kort daarna het die polisie opgedaag en haar gewaarsku om nie die toneel te versteur nie. Sy het verder gesê: “Ek het gesien haar gesig was gekneus, en haar heup ook. Ek het net só beskermend oor haar gevoel. Ek het nie haar sy verlaat nie, ek wou net by haar wees, al het ek nie geweet wie sy was nie.”
Toe Leé-Gail se ma, Abby, en haar stiefpa, Cyril, op die toneel arriveer, was Lindsey se eerste woorde aan haar ma onvergeetlik. Sy het gesê: “Abby, you can rest assure, it was instant, your daughter didn’t suffer.”
Leé-Gail se ma het ná afloop van die saak haar gevoelens met die media gedeel. Sy het gesê dat Nicolas haar dogter met die bakkie gestamp het en dat sy vasgesit het terwyl hy gery het. Sy het bygevoeg dat sy nie kan verstaan hoe iemand sou kan aanhou ry sonder om die gewig van ’n liggaam te voel nie. Volgens haar sou Nail steeds vry rondgeloop het indien dit nie vir ondersoekbeampte Nicolette Pheiffer was nie.
Leé-Gail se ma het ook haar teleurstelling oor die vonnis uitgespreek en gesê dat dit nie die erns van haar dogter se dood weerspieël nie. Sy het egter erken dat sy dankbaar is dat daar ’n vonnis opgelê is en dat die beskuldigde nie sonder straf vrygelaat is nie. Sy het spesifiek haar waardering uitgespreek teenoor staatsaanklaer Anzell Laubscher en ondersoekbeampte Nicolette Pheiffer vir hul volgehoue toewyding en pogings om geregtigheid te verseker.
Die uitspraak het hewige debat in die gemeenskap ontlok, met talle inwoners wat meen dat ’n jong lewe nie voldoende geregtigheid ontvang het nie. Vir die familie en gemeenskap van Ladismith bly die pyn en verlies onmeetbaar, en die herinnering aan Lee-Gail Standaar steeds onvervangbaar.