Kanaal 7

Kanaal 7 Die radiostasie in diens van Jesus Christus. Luister Kanaal 7 AANLYN by k7.com.na/luister-aanlyn/ Kanaal 7 is die Radiostasie van Media Netwerk vir Christus.
(1)

Ons saai uit op 35 FM Radiosenders regdeur Namibia. Kanaal 7 saai Christen Getuienisse, Christen Musiek, Christen Oordenkings, sowel as Nuusbullitens, Sport, Aktualiteit en Geselsprogramme uit. Dis' n geregistreerde, nie winsgewende, Artikel 21 Maatskappy. Media vir Christus bestaan reeds 40 jaar en Kanaal 7, die radiostasie, 30 jaar.

Werkers spaar nou vir… uitbranding.Vergeet vir ’n oomblik van die aftreefonds,  sommige werkers begin nou geld opsy sit ...
17/08/2026

Werkers spaar nou vir… uitbranding.

Vergeet vir ’n oomblik van die aftreefonds, sommige werkers begin nou geld opsy sit vir iets wat baie vroeër kan kom: uitbranding.

Business Insider berig dat sogenaamde burnout funds al hoe meer aandag kry. Dit is spaargeld wat spesifiek bedoel is om iemand die finansiële ruimte te gee om vir ’n paar maande van die werk af weg te stap, van loopbaan te verander of eenvoudig weer asem te skep wanneer die werkslewe te veel raak.

En dit lyk nie bloot na ’n slim naam vir ’n ekstra spaarrekening nie. ’n NAMI-Ipsos-opname onder meer as 2 100 Amerikaanse werknemers het bevind 53 persent het die afgelope jaar uitbranding weens hul werk ervaar, terwyl 26 persent dit oorweeg het om te bedank weens die uitwerking van werk op hul geestesgesondheid.

Sommige mense het behoorlik hiervoor beplan. Business Insider vertel onder meer van werkers wat tienduisende dollars of ponde gespaar het voordat hulle ’n loopbaanbreuk geneem het. Met ander woorde: die noodfonds is nie meer net vir ’n gebarste geiser of ’n motor wat besluit het hy is klaar met die lewe nie, nou is daar ook geld vir wanneer jy besluit jy is klaar met die kantoor.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie beskryf uitbranding as ’n beroepsverskynsel wat voortspruit uit chroniese werkstres wat nie suksesvol bestuur is nie, met onder meer uitputting, ’n negatiewe afstand van jou werk en verminderde professionele doeltreffendheid.

Kenners waarsku egter dat ’n paar maande weg nie noodwendig die probleem permanent oplos as ’n mens daarna na presies dieselfde ongesonde werksomstandighede terugkeer nie.

So dalk moet die moderne begroting nou lees: huur, kos, petrol, aftrede… en ’n klein bedrag vir die dag wanneer jou brein ’n kennisgewing indien dat hy met onmiddellike effek met verlof gaan.

Bronne: Business Insider; NAMI/Ipsos; Wêreldgesondheidsorganisasie.



17/08/2026

Nuus uit Suid-Afrika.
Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê laboratoriumtoetse het bevestig dat genetiese materiaal van die sardynherpesvirus teenwoordig is in getoetste sardyne. Janet Coetzee van die departement sê die virus is gevind in dooie sardyne en op laer vlakke ook in sommige oënskynlik gesonde sardyne wat aan die Weskus versamel is. Sy sê die virus is nog nooit voorheen in Suid-Afrikaanse sardyne aangemeld nie. Sy sê dit word geassosieer met twee grootskaalse sardynvrektes in Australasië gedurende die 1990's.


17/08/2026

Iran se weermag bied glo ’n beloning van sowat 484-duisend Namibiese dollar aan vir die dood of vang van Amerikaanse soldate. Volgens Die Papier sal die beloning verdubbel word indien ’n Iranse vrou die daad uitvoer, met die geld wat deur openbare bydraes befonds word. Die weermaghoof, Amir Hatami, het nie aangedui waar of wanneer Amerikaanse soldate na verwagting geteiken sal word nie.


’n Nuwe opname deur Lifeway Research wys dat jonger kerkgangers in die Verenigde State toenemend ’n behoefte het aan mee...
17/08/2026

’n Nuwe opname deur Lifeway Research wys dat jonger kerkgangers in die Verenigde State toenemend ’n behoefte het aan meer liturgie en struktuur in eredienste.

Volgens die opname onder meer as 1 200 Protestantse kerkgangers sê 18% van 18- tot 29-jariges en 19% van mense tussen 30 en 49 dat hulle graag meer liturgiese elemente in die kerk wil sien. Onder kerkgangers van 50 jaar en ouer is dié syfer net sowat 9%.

Die navorsing wys ook dat jonger gelowiges minder tevrede is met die huidige hoeveelheid liturgie in hul gemeentes. Kenners meen dit kan daarop dui dat ’n generasie wat in ’n vinnige en voortdurend veranderende wêreld grootword, juis aangetrokke voel tot vaste ritmes, tradisie en ’n duidelike orde van aanbidding.

Die bevindinge laat nou ’n interessante vraag ontstaan: Kan jong Christene uiteindelik die manier waarop moderne kerke eredienste aanbied, weer nader aan ouer tradisies laat beweeg?




17/08/2026

Moederinstink in sy kragtigste vorm.

Wanneer haar kleintjie bedreig word, tree ’n olifantma sonder huiwering op. Hierdie merkwaardige oomblik is in Suid-Luangwa, Zambië, vasgevang.

Video: Hans Henrik Haahr



New Orleans het die eerste groot Amerikaanse stad geword waar kunsmatige intelligensie, oftewel KI, ingespan word om sek...
17/08/2026

New Orleans het die eerste groot Amerikaanse stad geword waar kunsmatige intelligensie, oftewel KI, ingespan word om sekere oproepe na die 911-noodnommer te hanteer.

Die stelsel, bekend as AI Emergency Call Triage, is aan die einde van Julie in gebruik geneem. Dit is ontwerp om veral herhalende of minder dringende oproepe te hanteer wanneer menslike operateurs reeds besig is. Die stad se noodkommunikasiesentrum ontvang daagliks meer as ’n duisend oproepe.

Amptenare beklemtoon dat die tegnologie nie nooddienspersoneel vervang nie, maar eerder moet help om die druk op operateurs te verlig en ernstige noodgevalle vinniger by ’n menslike operateur uit te kry.

Die besluit het egter reeds kritiek ontlok. Kenners waarsku dat KI moontlik nie altyd subtiele leidrade in ’n oproeper se stem, emosie of woordgebruik sal verstaan nie. Dit kan veral gevaarlik wees in gevalle soos huishoudelike geweld, waar ’n persoon dalk nie openlik kan sê dat hy of sy in gevaar is nie.

Daar is ook vrae oor die akkuraatheid van stemherkenning, moontlike vooroordeel in KI-stelsels en die veiligheid van sensitiewe nooddata.

New Orleans se proefneming plaas dus ’n nuwe vraag op die tafel: Kan kunsmatige intelligensie werklik help om lewens te red, of behoort ’n noodoproep altyd aan die ander kant deur ’n mens beantwoord te word?

Bron: New York Post



17/08/2026
Die Amerikaanse aktrise Hayden Panettiere, bekend vir haar rolle in Heroes, Nashville en die Scream-rolprente, is op 36-...
17/08/2026

Die Amerikaanse aktrise Hayden Panettiere, bekend vir haar rolle in Heroes, Nashville en die Scream-rolprente, is op 36-jarige ouderdom oorlede. Haar verteenwoordiger het haar dood bevestig en haar beskryf as ’n besondere lig wat vreugde gebring het aan mense wat haar persoonlik én op die skerm geken het.

Panettiere het veral bekendheid verwerf as Claire Bennet in Heroes en later as Juliette Barnes in Nashville, waarvoor sy twee Golden Globe-benoemings ontvang het. ’n Doodsoorsaak is nog nie bekend gemaak nie.

Ons bid vir haar familie, geliefdes en vriende in hierdie tyd van verlies, dat hulle vertroosting, krag en vrede sal ontvang.

Bron: The Independent



Wat vat dit om ’n lewe te verander? Vir sommige mense is dit nie slim argumente of lang debatte nie – dis ’n ontmoeting ...
17/08/2026

Wat vat dit om ’n lewe te verander? Vir sommige mense is dit nie slim argumente of lang debatte nie – dis ’n ontmoeting met die lewende God wat jy eenvoudig nie kan ignoreer nie.
Een van die bekendste ateïste van die 20ste eeu, die skrywer van die Narnia-reeks, C.S. Lewis, het homself eenkeer beskryf as die mees teësinnige bekeerling in die hele Engeland.
Hy is nie deur emosie oortuig nie, maar deur die werklikheid van God wat eenvoudig deurgebreek het in sy lewe.
Terwyl hy met die waarheid geworstel het, het hy besef dié God wat hy probeer ontken het, was nie net ’n idee nie, maar ’n Persoon. Daardie ontmoeting met Christus het alles verander – die skeptikus het een van die grootste Christelike skrywers van alle tye geword.
Koning Dawid het presies dieselfde besef:
2 Samuel 7:22 sê: Daarom is U groot, oppermagtige Here! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie.
Die punt is dat Dawid vir God in aksie gesien het – en hy het gewéét daar is niemand soos Hy nie. Dis die kern van wat die bekende prediker R.C. Sproul gesê het toe iemand hom gevra het wat die verskil tussen die Christelike God en ander gode is. Sy antwoord was eenvoudig: Die grootste verskil is dit – die God van die Christendom bestaan.
Die God wat bestaan, is ’n God wat dinge doen. En in Christus het Hy eens en vir altyd ingegryp om jou te red. Moenie net van Hom weet nie. Ervaar Hom. Kyk vandag hoe Hy in jou eie lewe aan die werk is. Want wanneer jy Hom in aksie sien, sal jy ook nie anders kan as om uit te roep:
Daar is niemand soos U nie. Daar is geen God buiten U nie!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

Jeremia 18:1–6Daar is iets besonders aan ’n pottebakker se hande.Hy vat ’n stuk klei wat vir die gewone oog maar net ’n ...
17/08/2026

Jeremia 18:1–6

Daar is iets besonders aan ’n pottebakker se hande.

Hy vat ’n stuk klei wat vir die gewone oog maar net ’n vormlose massa is, sit dit op die wiel en begin werk. Die wiel draai. Sy vingers druk. Soms trek hy die klei hoër, soms druk hy dit weer af. En as die vorm skeefloop, gooi hy dit nie noodwendig weg nie, hy begin weer.

Jeremia staan eendag in ’n pottebakker se werksplek en sien presies dit gebeur. Die kruik waaraan die pottebakker werk, misluk in sy hande. Maar dan lees ons iets aangrypends: die pottebakker maak daarvan weer ’n ander voorwerp, soos hy dit goedvind.

En God sê: Soos die klei in die hand van die pottebakker, so is julle in My hand.

Ons hou nie altyd van die vormingsproses nie.

Ons bid vir groei, maar nie noodwendig vir die druk wat groei bring nie. Ons vra dat God ons moet gebruik, maar ons vergeet dat ’n bruikbare kruik eers gevorm moet word. Soms voel die lewe asof alles net in sirkels draai, dieselfde stryd, dieselfde vrae, dieselfde onsekerheid. Maar miskien is die wiel nie ’n teken dat God jou vergeet het nie. Miskien is dit juis die plek waar Sy hande die naaste aan jou is.

Daar is seisoene waarin God iets in ons afbreek wat ons gedink het deel van ons identiteit is. Planne verander. Deure sluit. Verhoudings lyk anders. Ons ontdek swakhede in onsself wat ons eerder sou wou wegsteek.

En dan wonder ons: Here, wat maak U met my? Maar klei kan nie altyd verstaan wat die Pottebakker sien nie.

Ons sien net die druk van vandag; Hy sien die vorm van môre. Ons sien ’n mislukking; Hy sien materiaal waarmee Hy steeds kan werk. Ons sien ’n gebroke stuk; Hy sien iets wat nog glad nie klaar is nie.

Dit is miskien die mooiste deel van Jeremia 18: die klei bly in die pottebakker se hande.

Nie op die vloer nie.
Nie weggegooi nie.
Nie vergete nie.

In Sy hande.

Daarom hoef jy nie bang te wees wanneer God aan jou lewe werk nie. Sy hande is nie dié van ’n ongeduldige kunstenaar nie. Dit is die hande van ’n Vader wat jou ken. Die hande wat jou gevorm het, is dieselfde hande wat aan ’n kruis vir jou deurboor is.

Miskien voel jy vandag asof jou lewe glad nie lyk soos jy gedink het dit sou nie. Moenie te vinnig besluit dat iets verkeerd geloop het nie.

God is steeds besig.

Gee Hom die sagte klei van ’n oorgegewe hart en bid:

“Here, ek verstaan nie altyd wat U doen nie, maar ek vertrou die hande wat my vorm. Maak van my wat U wil hê ek moet wees.”

Want die wiel mag draai, die druk mag soms seer wees en die vorm mag nog onduidelik wees…maar die Pottebakker het jou nog nie uit Sy hande laat val nie.



Address

C/O Hendrik Witbooi & Ara Street
Windhoek

Opening Hours

Monday 06:00 - 21:00
Tuesday 06:00 - 21:00
Wednesday 06:00 - 21:00
Thursday 06:00 - 21:00
Friday 06:00 - 21:00
Saturday 06:00 - 20:00
Sunday 06:00 - 13:00

Telephone

+26461420850

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Kanaal 7 posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share

Category