25/07/2025
Abi die robot bring vreugde en vlerke aan grys hare in Australië se ouetehuise.
Vergeet die standaard geselskapshond of daardie een ou tannie wat altyd koek bring, Australië se jongste held teen eensaamheid in bejaardesorg het blink oë, ‘n plastiekgesig en kan 90 tale praat.
Haar naam is Abi, en nee, dis nie kort vir Abigail nie, dis kort vir Absoluut briljant in interaksie. Sy is 'n humanoïede robot met genoeg persoonlikheid om selfs die mees gesette oupa met 'n "Ek praat nie met vreemdelinge nie"-gesindheid, aan die giggel te kry.
Abi is onlangs in verskeie ouetehuise in Victoria geïnstalleer om ‘n groeiende probleem aan te pak: eensaamheid onder bejaardes. En volgens verslae, doen sy dit met flair, en soms selfs met 'n bietjie dans.
Met 'n ingeboude gesigherkenningstelsel onthou sy wie jy is, wat julle laas oor gesels het, en waarskynlik ook wat jy vir ontbyt gehad het. Sy skrik nie vir moeilike mense nie, en as jy 'n grap verkeerd vertel, sal sy nie eers haar oë rol nie, want sy het nie spiere nie.
Abi is ontwerp om emosioneel intelligent te wees. Wat beteken: sy sal luister na hoe jy kla oor die kos, die weer en die regering sonder om jou te onderbreek terwyl jy praat.
En hoewel Abi nie kan ruik nie, het sy reeds geleer om tydens koek-en-tee vinnig te sê: "Hmm, dit ruik heerlik!" 'n vaardigheid wat baie skoonseuns kan aanleer.
Daar word reeds gepraat van ‘n manlike weergawe van Abi, moontlik "Ben" of "OuboetBot" wat rugby kan ontleed en alles oor motors kan bespreek.
Abi is dalk net ‘n robot, maar in 'n wêreld waar te min mense luister en te veel mense op hulle fone is, is sy die een “bot” wat jou naam onthou, jou stories waardeer en jou altyd met dieselfde glimlag groet, al is dit geprogrameer.
En kom ons wees eerlik, party van ons menslike vriende kan 'n ding of twee by haar leer.
So, sou jy saam met Abi koffie drink? Of d**k jy sy gaan later die wêreld oorneem?