05/04/2024
Tegwaan - Waterval Boven
24/03/2024
Ritme stap oor klippe trap ,
deur kronkel gang en gras omring..
Tree op tree nader aan voetpad end, elke trap 'n ander vind.. van mot se mooi tot blommeprag.. rooibond tot ligroospienk elk uniek aan God se hand..
By die aalwyn sentinel is die vallei ontbloot.. oopgelê deur ons Skepperhand, getooi in groenwoud kleed elke boom, bos en grashalm se ets verweef tot 'n harmonie van skilderprag..
Silwerblink waterweg inge-ets in die groenbos se prent wat kronkeldeur tot die verste end waar dit verdwyn uit die skilderprag van Vadershand..
Die helderblou hemelweg, ver daarbo, gevul met 'n wattebank van ligruis en wit tot 'n swartgrys plaat wat 'n groot belofte laat.
Stadig verkleur die hemelblou tot skakerings van reënboog pienk en helderpers tot 'n diep oranje van laaste lig.
Dan, meteens drup die vroeë belofte van lewe geleidelik na benee om nuwe lewe te gee aan 'n dorste land.
Ons vaderland, groene land..