
06/08/2025
My hart, my hart.....
Goeie naand julle. Ek groet julle regstreeks hier uit Melomed (storie vir ‘n ander dag).
Dit het my verskriklik lank gevat om oor die volgende gebeure te skryf want dit was vreeslik traumaties vir my.
Vir lank al (meer as 3 jaar, ek d**k dit het begin in 2019) het ek die hartkloppings gehad waar dit voel of my hart uit my borskas wil spring. So was ek dokter toe en is verwys na ’n kardioloog by Kuilsrivier Netcare. Vreeslike klomp toetse gedoen, maar net gevind my hart was vergroot. Dr. het medikasie voorgeskryf en vir ’n tyd het die hartkloppings opgehou.
In 2023 toe begin die hartkloppings weer. Ek sit rustig en dan is my hartklop baie vinnig en dan kom dit met steek borspyne en ‘n moegheid en lamheid.
So beland ek toe by ’n kardioloog in Melomed. Klomp toetse gedoen, hulle kon nie iets vreesliks fout vind nie en het gesien dat my hart toe nie vergroot was nie. Ek was geskeduleer om die kardioloog weer in 3 maande te sien en as my toestand nie verbeter het nie, dan moet ek kom vir ’n angiogram (waar hulle met klein kameratjie ingaan in jou are om te kyk of daar enige blokkasies is of fout met hartspiere en so aan). Ek was glad nie opgewonde oor die vooruitsig van hierdie prosedure nie...
Seker so 2 weke na my besoek aan die kardioloog word ek siek en het borspyne en gaan ER toe. Ek word opgeneem en gerush ICU toe. Stresvlakke is hoog vir al die klomp masjiene en drade waaraan ek gekoppel is. Ek moes toe noodgedwonge gaan vir die angiogram.
Nou kyk hier, ek het mos al ’n hele paar operasies aan hierdie ou liggaampie gehad en die ou lyf het seker nou gevoel sy’s nou immuun teen narkose of die inspuiting wat hulle my in my binneboud sal gee.
So met die gevolg het ek ALLES gevoel wat hulle met my in daai teater aangevang het. Ek het geskree en gehuil van die pyn! Deel van die prosedure was om my met adrenalien in te spuit om te kyk hoe my hart reageer onder stress.
Toe hulle daai met my doen, toe voel ek: hier gaan ek vandag sterf! So probeer ek my gedagtes gospel liedjies sing om my te kalmeer en die enigste lied wat by my opkom is die volgende:
“hold me close
Let you Love surround me”
Daai gedeelte van die lied was nog oraait, maar toe ek by die volgende gedeelte kom van:
“and as I wait,
I’ll rise up like an eagle!”
Toe sê ek vir myself, nog nooit! Ek kan nooit nou rise up like an eagle in die Here se arms nie!
Daai oomblikke sukkel ek skoons om asem te kry en ek sien hoe kom haal die dood my vandag. Ek het sommer van vooraf my saak reggemaak met die Here. In al die konsternasie bid ek en ek sê: “Here U kan my nog nooit nou al kom haal nie! My kinders is net te jonk en ek weet my man gaan gou weer trou want hys mos mooi en sexy en manne kan oor die algemeen nie lank sonder ‘n vrou bly nie. Ek weet by my begrafnis gaan daar al klaar meide wees wat hulle oë op hom gaan het. Here dai meid wat my man gaan trou gaan my kinders opmors. U weet mos hoe smaak Elzeka se bekkie. Sy gaan nie haar mond hou vir daai 2de vrou nie en moenie eers praat van JP nie. Sy gaan my Sonkies mos opmors! Nee Here, hou my asseblief in die holte van U hand en spaar my lewe.”
Julle dis nie soos ek hier vir julle vertel nie. Dit was ’n vreeslikheid. Na wat gevoel het soos ure is die marteling oor en was die Here my darem genadig en het Hy my lewe uitgespaar.
Ek is terug na ICU toe vir 2 dae en daarna oor na gewone saal. Hierdie keer kon hulle ook nie foutvind nie en ek is huis toe.
Ek d**k ek moet ’n live doen waar ek julle vertel sodat julle kan verstaan wat ek rerig deurgemaak het.
Ek het weereens na hierdie ervaring besef hoe God Sy hand van genade oor my strek en hoe Hy my bewaar.
Stuur groete van huis tot huis en bly gesond.
Soulvy van Keimoes se Nuwe Stories