08/07/2025
✨Ansoeke sluit Woensdag, 9 Julie 2025! Kry nou jou nominasies in! ✨
Wynlanders: benoem nóú jul vroue van formaat
Taalmonument, munisipaliteit en trust borg weer fenomenale pryse
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) en Historium Trust is verheug om die vierde Fenomenale Vroue-toekennings aan te kondig. Hierdie toonaangewende jaarlikse geleentheid sal die merkwaardige prestasies van die ongelooflike vroue in ons gemeenskap vier.
Die versoek om nominasies is nou oop en ons nooi die publiek om onbesonge heldinne wat inspirerende bydraes tot die Kaapse Wynland-gemeenskappe gemaak het, te nomineer. INSKRYWINGS SLUIT OP WOENSDAG, 9 JULIE 2025, OM 16:00.
Die beoordeling sal in Julie deur ’n paneel vooraanstaande vroue behartig word waarna die toekenningseremonie op Woensdag, 13 Augustus 2025, beloof om weereens ’n hoogtepunt van Vrouemaand te wees. Op die glansgeleentheid sal die uitsonderlike prestasies van vroue wat hul gemeenskappe geïnspireer en ander gemotiveer het om na uitnemendheid te streef, erken en gevier word.
Die Fenomenale Vroue-toekennings se doel is om toekomstige geslagte met hoop en bemagtiging te vervul, en te bewys dat daar geen perke is aan wat vroue kan bereik nie. Die gemeenskap word aangemoedig om deel te neem aan die erkenning van hierdie uitsonderlike vroue en hul besonderse reise.
Nominasievorms kan op die KWDM-webtuiste by capewinelands.gov.za afgelaai word of by enige KWDM-kantoor of die Historium Trust in Pastorielaan, Paarl, afgehaal word. Jy kan ook die vorm ontvang deur ’n WhatsApp-boodskap met die teks ‘Fenomenale Vroue’ na 076 017 6026 te stuur. Voltooide vorms kan per e-pos na [email protected] of per WhatsApp na 076 017 6026 gestuur word, of fisiek by die Historium Trust of enige KWDM-kantoor ingehandig word.
Vanjaar se 10 kategorieë is: Landbou, Vroeëkinderontwikkeling, Basiese Onderwys, NRO-/GOW-sektor, Entrepreneur, Ondersteuning, Bestuur, Passie, Bevordering van Afrikaans, en Gestremdhede. Kategoriebeskrywings asook bepalings en voorwaardes by capewinelands.gov.za.
https://www.capewinelands.gov.za/phenomenal-women-2025/✨