01/08/2016
Die kinders van Clarke Estate, Avonwood, Elsiesrivier, moet dikwels steel en roof, want daar is nie geld vir kos nie.
As gevolg van swaarkry verlaat hulle skool op ’n vroeë ouderdom, en verval uiteindelik in tikverslawing en bendes.
So sê Biskop Andreas Skippers van The United Mission Church of South Africa, tydens ‘n uitreikaksie op Mandela dag in die gemeenskap. Meer as 100 kinders het vir sop en ‘n snytjie brood opgedaag.
Skippers, tesame met Van Wyk en Wentzel, die voorsitter en ondervoorsitter van die Norwood Seniors, Elsiesrivier, asook raadslid Jordaan, wyk 28, het ‘n stuk grond geïdentifiseer waar ‘n sopkombuis twee keer per week gehou word. ‘n Eenmalige donasie van Raadslid Chris Jordaan het die wiel aan die rol gesit, maar tans word die broodnodige voedingskema deur Biskop Skippers gefinansier.
“Ek wil so graag elke dag vir die kinders sop en brood gee,” het hy gesê.
“Hier is baie kinders wat nie eens ‘n stukkie brood in hul huise het nie wat hier kom eet.
Die kinders se ouers kry AllPay, en dis maar min.
Werkloosheid is hoog in Elsiesrivier.”
Skippers slaap swaar in die aand wanneer hy moet d**k dat daar kinders is wat met ‘n leë maag moet gaan slaap.
Die bediening en die gemeenskap het nou hande gevat in ‘n poging om die gemeenskap te help.
Jordaan het hand bygesit om te verseker dat die stuk grond waar die sopkombuis gehou word deur die gemeenskap benut kan word.
“Nou kort ons net ‘n omheining sodat ons op die perseel kan sop kook en dinge doen,” het Van Wyk, ‘n gemeenskapswerker, gesê.
Die plan is om uiteindelik ‘n basis vir die buurtwag en sopkombuis op die terrein op te rig. ‘n Groentetuin, speelplek vir die kinders en allerlei langtermynplanne soos vakansieprogramme, is in die pyplyn.
Die span is reeds besig om ‘n donasie te soek om draad vir ‘n heining te koop. Kos donasies vir die sopkombuis word ook dringend benodig.
Biskop Skippers sê ongeag hoe klein of groot die donasies is, alles sal waardeer word. “Dit gaan oor die versadiging van hongermagies wat smag na ‘n stukkie kos.”
Die span beplan ook ‘n Kerspartytjie vir die kinders, waarvoor hulle geskenkies benodig.