24/09/2025
Die Israelitiese volk het heelwat feeste wat in die Ou Testament genoem word en vandag nog gevier word. Hierdie feeste is nie sommer net kulturele tradisies nie; dit is heilige dae wat deur God ingestel is om Sy volk te herinner aan Sy dade, sy verbond en hul identiteit as sy uitverkore mense.
Een van die bekendste feeste is Pasga, wat deur God ingestel is om die Israeliete se verlossing van slawerny in Egipte te vier. Die simboliek van die fees lê in die bloed van lammetjies wat aan die deurkosyne van die Israeliete se huise gesmeer moes word, sodat hulle huise oorgeslaan sou word deur die doodsengel wat, in opdrag van God, al die eersgeborenes van Egipte om die lewe moes bring.
Die dieper betekenis vir vandag se Christene is dat dit ’n vooruitskouing is van Jesus, die Lam van God, wat sy bloed sou stort sodat ons as mense gered kan word van die ewige dood. Terloops, vir diegene wat van detail hou: dit is die eerste visuele aanduiding in die Heilige Skrif van Jesus as "die Deur”, "die enigste Weg" tot verlossing.
’n Fees wat oor eeue heen baie diep betekenis dra vir die Israelitiese volk is Rosh Hashana. Direk vertaal beteken dit "kop van die jaar”, omdat dit die eerste dag van die Bybelse kalender is en daarom as Joodse Nuwejaarsdag gevier word. Die oorspronklike Hebreeuse naam vir Rosh Hashana is Yom Teruah, wat letterlik vertaal kan word as "die dag van trompetgeskal”, dus die Fees van Trompette. Hierdie fees is ’n heilige dag wat God aan die volk gegee het as deel van die verbond tussen Hom en die Israeliete. Die trompet (shofar) het die volk opgeroep tot herinnering, berou en voorbereiding vir die komende Groot Versoendag (Yom Kippur). Jy kan meer daaroor lees in Levitikus 23:23-25.
Baie van die Ou-Testamentiese feeste het nie net ’n historiese betekenis nie, maar ook ’n profetiese dimensie. Die feeste van Pasga, Ongesuurde Brode, Eerstelinge en Pinkster is vervul in Christus se dood, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Daarteenoor is daar feeste met ’n tweeledige betekenis: die Fees van Trompette, Versoendag en die Loofhuttefees. Eerstens was dit van toepassing op die antieke Israeliete se verbondsooreenkoms met God, en tweedens dui dit op toekomstige gebeure soos die wederkoms, oordeel, en die vestiging van God se Koninkryk.
Maar o wee, dit is juis hier waar verwarring oor die betekenis van die heilige dae ontstaan onder gelowiges. Aan die een kant is dit mense se beperkte kennis van die ontstaan, doel en betekenis van die feeste, en aan die ander kant glo hulle die persoonlike gevolgtrekkings van geestelike leiers wat nie in lyn met die Skrif se waarheid is nie en daarom heeltemal onvanpas as evangelie verkondig word. Om lig te werp op die onderwerp - sodat jy meer insig sal hê wanneer jy gebombardeer word met sogenaamde hedendaagse profete se verklarings oor Bybelse profesieë - het ek dit goed ged**k om hierdie persoonlike analise met jou te deel.
Die verwarring tussen die Fees van Trompette en die wegrapingsteorie het moontlik sy ontstaan as gevolg van die simboliek van die trompet in beide die Ou en Nuwe Testament. Hier is 'n paar van my gevolgtrekkings:
🎺 Die trompet as Goddelike oproep
In die Ou Testament (Numeri 10) is trompette gebruik om die volk byeen te roep, oorlog aan te kondig of ’n heilige tyd te begin. In die Nuwe Testament (1 Thes. 4:16 en 1 Kor. 15:52) word die trompet van God genoem as die teken van die opstanding van die dooies en die verandering van lewendes, Hierdie skrifte word dikwels verkeerdelik aangehaal as die tyd vir die wegraping. "...want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word...” (1 Kor. 15:52)
🎺 Die profetiese volgorde van feeste
Die lente- en herfsfeeste het elk ’n profetiese betekenis. Die lente-feeste (Pasga, Ongesuurde Brode, Eerstelinge, Pinkster) is reeds vervul in Christus se eerste koms. Die herfsfeeste (Trompette, Versoendag, Loofhuttefees) word dikwels gesien as profeties van Jesus se tweede koms. Die Fees van Trompette is die eerste van die herfsfeeste en word dus gesien as die begin van die eindtyd-gebeure.
🎺 ’n Misverstand oor wie geroep word
In Numeri 10:2-4 word twee trompette gebruik: een vir die leiers, een vir die hele vergadering. Daar is heelwat teologiese studies (wat afkomstig is vanoor die hele spektrum van kerkdominasies) wat van mening is dat die enkele trompet in die Nuwe Testament eerder dui op die opwekking van leiers en heiliges as werkers om die oes in te bring aan die einde van die tyd. Hierteenoor is daar wegrapingspredikers wat verkondig dat die hele kerk op daardie dag sal weggevoer word. Ek vra hier die vraag, as almal dan weggeraap gaan word, wie bly oor om die werk te doen om siele te bearbei vir die Koningkryk van God.
🎺 Tydsberekening en spekulasie
Omdat die Fees van Trompette oor September en Oktober val, en dit met oordeel en voorbereiding geassosieer word, het sommige mense begin voorspel dat die wegraping op daardie dag sal plaasvind. Hierdie voorspellings is egter nie deur die Skrif bevestig nie en kan lei tot verwarring en teleurstelling.
🎺 Geestelike betekenis vir Christene
Baie Christene sien die Fees van Trompette as ’n voorskou van Christus se wederkoms. Maar dit is nie ’n voorspelling van die wegraping nie. Ons as gelowiges moet besef dat God se tydsberekening heilig is, en slegs Hy weet wanneer alles volbring sal word. Die profesie oor die laaste dae, wat ons te wagte moet wees, is deur Jesus self aan ons meegedeel. Nerens in die Bybel word enige ander mens genoem wat in die eindtye as boodskapper sal optree om ons te waarsku oor die tyd nie. Inteendeel, dié wat hulle daaraan skuldig maak, word valse profete genoem.
✝️ Al wat jy kan doen om gereed te wees is: berou hê oor jou sondes, pleit vir God se genade, ontvang Jesus Christus as jou enigste Verlosser - want net sy bloed kan jou red - en hou jou lampie vol olie, want ons ken nie die tyd nie.
Onthou, dit is steeds jou voorreg om te glo wat jy wil, ek verkies wat die Woord van God vir ons leer.
Met liefde en wees geseënd!
Hier kan jy luister na die mooi klanke van die shofar.
https://www.youtube.com/watch?v=xy9AaG0rAhA