Die Agtste Dag

Die Agtste Dag Na die sewende dag van die volmaakte Skepping het iets verskriklik verkeerd geloop met die wêreld .

Madeleine Carlsson belig die vrae en soek antwoorde in die Woord van God op ‘n ongewone manier, deur ‘n lens van ‘n knippie ironie en ‘n skeut humor.

Die Israelitiese volk het heelwat feeste wat in die Ou Testament genoem word en vandag nog gevier word. Hierdie feeste i...
24/09/2025

Die Israelitiese volk het heelwat feeste wat in die Ou Testament genoem word en vandag nog gevier word. Hierdie feeste is nie sommer net kulturele tradisies nie; dit is heilige dae wat deur God ingestel is om Sy volk te herinner aan Sy dade, sy verbond en hul identiteit as sy uitverkore mense.

Een van die bekendste feeste is Pasga, wat deur God ingestel is om die Israeliete se verlossing van slawerny in Egipte te vier. Die simboliek van die fees lê in die bloed van lammetjies wat aan die deurkosyne van die Israeliete se huise gesmeer moes word, sodat hulle huise oorgeslaan sou word deur die doodsengel wat, in opdrag van God, al die eersgeborenes van Egipte om die lewe moes bring.

Die dieper betekenis vir vandag se Christene is dat dit ’n vooruitskouing is van Jesus, die Lam van God, wat sy bloed sou stort sodat ons as mense gered kan word van die ewige dood. Terloops, vir diegene wat van detail hou: dit is die eerste visuele aanduiding in die Heilige Skrif van Jesus as "die Deur”, "die enigste Weg" tot verlossing.

’n Fees wat oor eeue heen baie diep betekenis dra vir die Israelitiese volk is Rosh Hashana. Direk vertaal beteken dit "kop van die jaar”, omdat dit die eerste dag van die Bybelse kalender is en daarom as Joodse Nuwejaarsdag gevier word. Die oorspronklike Hebreeuse naam vir Rosh Hashana is Yom Teruah, wat letterlik vertaal kan word as "die dag van trompetgeskal”, dus die Fees van Trompette. Hierdie fees is ’n heilige dag wat God aan die volk gegee het as deel van die verbond tussen Hom en die Israeliete. Die trompet (shofar) het die volk opgeroep tot herinnering, berou en voorbereiding vir die komende Groot Versoendag (Yom Kippur). Jy kan meer daaroor lees in Levitikus 23:23-25.

Baie van die Ou-Testamentiese feeste het nie net ’n historiese betekenis nie, maar ook ’n profetiese dimensie. Die feeste van Pasga, Ongesuurde Brode, Eerstelinge en Pinkster is vervul in Christus se dood, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Daarteenoor is daar feeste met ’n tweeledige betekenis: die Fees van Trompette, Versoendag en die Loofhuttefees. Eerstens was dit van toepassing op die antieke Israeliete se verbondsooreenkoms met God, en tweedens dui dit op toekomstige gebeure soos die wederkoms, oordeel, en die vestiging van God se Koninkryk.

Maar o wee, dit is juis hier waar verwarring oor die betekenis van die heilige dae ontstaan onder gelowiges. Aan die een kant is dit mense se beperkte kennis van die ontstaan, doel en betekenis van die feeste, en aan die ander kant glo hulle die persoonlike gevolgtrekkings van geestelike leiers wat nie in lyn met die Skrif se waarheid is nie en daarom heeltemal onvanpas as evangelie verkondig word. Om lig te werp op die onderwerp - sodat jy meer insig sal hê wanneer jy gebombardeer word met sogenaamde hedendaagse profete se verklarings oor Bybelse profesieë - het ek dit goed ged**k om hierdie persoonlike analise met jou te deel.

Die verwarring tussen die Fees van Trompette en die wegrapingsteorie het moontlik sy ontstaan as gevolg van die simboliek van die trompet in beide die Ou en Nuwe Testament. Hier is 'n paar van my gevolgtrekkings:

🎺 Die trompet as Goddelike oproep
In die Ou Testament (Numeri 10) is trompette gebruik om die volk byeen te roep, oorlog aan te kondig of ’n heilige tyd te begin. In die Nuwe Testament (1 Thes. 4:16 en 1 Kor. 15:52) word die trompet van God genoem as die teken van die opstanding van die dooies en die verandering van lewendes, Hierdie skrifte word dikwels verkeerdelik aangehaal as die tyd vir die wegraping. "...want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word...” (1 Kor. 15:52)

🎺 Die profetiese volgorde van feeste
Die lente- en herfsfeeste het elk ’n profetiese betekenis. Die lente-feeste (Pasga, Ongesuurde Brode, Eerstelinge, Pinkster) is reeds vervul in Christus se eerste koms. Die herfsfeeste (Trompette, Versoendag, Loofhuttefees) word dikwels gesien as profeties van Jesus se tweede koms. Die Fees van Trompette is die eerste van die herfsfeeste en word dus gesien as die begin van die eindtyd-gebeure.

🎺 ’n Misverstand oor wie geroep word
In Numeri 10:2-4 word twee trompette gebruik: een vir die leiers, een vir die hele vergadering. Daar is heelwat teologiese studies (wat afkomstig is vanoor die hele spektrum van kerkdominasies) wat van mening is dat die enkele trompet in die Nuwe Testament eerder dui op die opwekking van leiers en heiliges as werkers om die oes in te bring aan die einde van die tyd. Hierteenoor is daar wegrapingspredikers wat verkondig dat die hele kerk op daardie dag sal weggevoer word. Ek vra hier die vraag, as almal dan weggeraap gaan word, wie bly oor om die werk te doen om siele te bearbei vir die Koningkryk van God.

🎺 Tydsberekening en spekulasie
Omdat die Fees van Trompette oor September en Oktober val, en dit met oordeel en voorbereiding geassosieer word, het sommige mense begin voorspel dat die wegraping op daardie dag sal plaasvind. Hierdie voorspellings is egter nie deur die Skrif bevestig nie en kan lei tot verwarring en teleurstelling.

🎺 Geestelike betekenis vir Christene
Baie Christene sien die Fees van Trompette as ’n voorskou van Christus se wederkoms. Maar dit is nie ’n voorspelling van die wegraping nie. Ons as gelowiges moet besef dat God se tydsberekening heilig is, en slegs Hy weet wanneer alles volbring sal word. Die profesie oor die laaste dae, wat ons te wagte moet wees, is deur Jesus self aan ons meegedeel. Nerens in die Bybel word enige ander mens genoem wat in die eindtye as boodskapper sal optree om ons te waarsku oor die tyd nie. Inteendeel, dié wat hulle daaraan skuldig maak, word valse profete genoem.

✝️ Al wat jy kan doen om gereed te wees is: berou hê oor jou sondes, pleit vir God se genade, ontvang Jesus Christus as jou enigste Verlosser - want net sy bloed kan jou red - en hou jou lampie vol olie, want ons ken nie die tyd nie.

Onthou, dit is steeds jou voorreg om te glo wat jy wil, ek verkies wat die Woord van God vir ons leer.

Met liefde en wees geseënd!

Hier kan jy luister na die mooi klanke van die shofar.
https://www.youtube.com/watch?v=xy9AaG0rAhA

Gaan maak koffie. Sit rustig terug. Gordel vas. Hierdie is 'n lang gesprek.Die verskynsel wat vandag as ‘cancel culture’...
25/07/2025

Gaan maak koffie. Sit rustig terug. Gordel vas. Hierdie is 'n lang gesprek.

Die verskynsel wat vandag as ‘cancel culture’ bekend staan, word meestal met digitale platforms en publieke figure verbind. Wêreldwyd manifesteer dit as ’n moderne ritueel van uitsluiting - waar die massas, meestal op sosiale media, ’n persoon aanvat oor gedrag, uitsprake, of iets wat hulle in die verlede gedoen het. Die aandag vestig dikwels op sensitiewe kwessies soos rassisme, seksisme, homofobie of mishandeling. Maar dikwels is dit ook kleiner, selfs onbenullige oortredings wat, al is dit skaars ’n fladdering van jou wenkbrou werd - uitgelig word om ’n persoon se hele lewe te versuur. Ongelukkig bly dit selde by die blootlegging van ’n fout in ’n oomblik van swakheid. Op aanlyn platforms word die saak dikwels aangeblaas, en die individu word onderwerp aan ’n oordeel soos in ’n volksgeregshof - ’n digitale weergawe van die ou boendoehof. Die gevolg? Die persoon word simbolies uit die gemeenskap gedryf, asof hulle eenvoudig nooit bestaan het nie. Só het digitale platforms ’n plek geword waar oordeel vinnig en fel uitgespreek word, maar genade selde plek kry. En daarom noem ek hierdie verskynsel ‘verdoemingskultuur’: ’n morele uitsluitingsritueel vermom as geregtigheid.

Maar as jy d**k net beroemdes is slagoffers daarvan is jy verkeerd. Hierdie verskynsel seil stilweg die intieme waters van familielewe binne, waar dit dikwels dieper sny en stiller bloei. Trouens, die patroon is geensins nuut nie - sy wortels reik terug tot die begin van die menslike samelewing.

Wat my die meeste tref, is dat niemand buite die trefkrag van hierdie verskynsel staan nie. Nie ek of jy nie, nie ons geliefdes, vriende, of families nie. En dan, dalk die broosste van almal: ons kinders. Hulle word onkant betrap in ’n wêreld waar die norme ongenaakbaar is. Die vroeë tekens van uitsluiting is gewoonlik vaag en verraderlik. As mens dit skaars kan sien, hoe kan ons dit vermy? En eerlik gesê, meeste volwassenes met wie ek hieroor gesels, staar net na die draaikolk, onbewus van hoe diep dit al onder ons oppervlak roer. Die vraag is, hoe beskerm ek myself en my familie daarteen? Is daar 'n voorbeeld in die Handboek van die Lewe, die Woord van God wat vir ons 'n riglyn kan wees? Voor ons daarby kom, kom ons ondersoek eers die dinamiek van familiebande.

Haakplekke in families is nie dinge wat dadelik sigbaar is nie. Eers is daar amper-onsigbare rimpelings. Klein emosionele golfies wat aanhou klop teen die romp van die familiebootjie. Aanvanklik onsigbaar, onhoorbaar, onvoelbaar. Altyd onverbiddelik. Soos seesproei kan kwetsende woorde en menslike gewoontetjies waai oor die dekrelings van ons familiebootjies. Net soos op 'n regte boot, as dit nie gereeld skoongemaak word nie, wemel dit gou-gou van die skimmel en swamme. Dan word die bodek - juis die plek waar jy jou staan moet ken om die lewe te navigeer - 'n glibberige onvaste oppervlakte. Een klein brandertjie en jy verloor jou balans, dat jy so gedisorienteer is, jy nie die verskil tussen bakboord en stuurboord, die boot se boeg of agterstewe kan uitmaak daar waar jy op jou glorie rus tussen die swamme nie.

Alvorens die deining te hoog raak en ek ons in ’n verkeerde rigting laat dryf, laat ek jou vertel van ’n man in die Bybel wat die eerste ware slagoffer van die verdoemingskultuur sou wees. 'n Man wat met reg die vader van seevaart gedoop kan word. ’n Man met wysheid, honderde jare se lewenservaring en ’n sagte hart. Wat ten spyte van sy rotsvaste leierskap, in sy broosheid nie die komende familiestorm sien aankom het nie. Sy naam is Noag.

Vir dié wat nie met sy verhaal vertroud is nie: Noag was die man wat volgens God se opdrag, ’n paar duisend jaar gelede, ’n tevah - die ark - moes bou. Hy was nie die argitek nie, maar eerder die uitvoerder van ’n Hemelse Bouplan. Wat hy wél geword het, was ’n pionier-skeepsbouer: iemand wat elke plank en balk uit goferhout gesny en geskaaf het, alles volgens die spesifikasies van die Plan. Spyker vir spyker het hy die massiewe struktuur aanmekaar getimmer en met p*k geseël om die ark waterdig te maak. En toe, in ’n daad van geloof, omdat hy God se waarskuwings ernstig opgeneem het oor ’n vloed wat die aarde sou verswelg, neem hy sy vrou, sy drie seuns en hulle vroue, én ’n hele dieretuin vol diere, twee-twee van elke soort op ’n jaarlange seevaart waarvan die mensdom vandag nog praat.

Van Noag moet jy weet: in ’n wêreld waarin elke menslike gedagte met boosheid deurspek was, het hy ’n ander ritme gevolg; ’n innerlike maatstaf van gehoorsaamheid. Hy het ’n persoonlike pad met Yahweh gestap, nie in afgeleë gedienstigheid nie, maar in innige, daaglikse verbondenheid. Sy geloof was nie ’n flou lanterntjie wat teen die duisternis baklei het nie; dit was ’n vuurtoring wat elke dag die koers aangegee het. God self noem hom in Genesis 6 'regverdig en opreg in sy geslag'. Hy was ’n man wat nie net die Stem gehoor het nie, maar dit presies gevolg het. Soos ’n skeepskaptein wat op sterre navigeer, het Noag op hemelse koördinate met gehoorsaamheid gelei. Hy het nie gewag vir verduidelikings of bevestiging van ander mense nie. Hy het gehoor. Gewaarsku. Geglo. Gebou. En in daardie bouwerk het hy ’n monument van geloof opgerig wat vandag nog spreek: ’n ark van gehoorsaamheid wat tot in ewigheid sal dryf op die see van menslike ongehoorsaamheid.
Met ’n man wat só naby aan God leef, wil jy glo dit sal net goed gaan op alle gebiede van sy lewe. Maar, soos my ouma altyd gesê het; Sataniël is lustig! En dikwels gebruik hy jou eie bloedfamilie om die vuurtjie te stook en die pot te roer. Getroue Noag was inderdaad die eerste slagoffer van die 'verdoemingskultuur'. Hier is sy storie:

Nadat die ark uiteindelik tot rus gekom het op berg Ararat, en Noag en sy gesin weer vaste grond onder hul voete gevoel het ná die vloed, plant hy ’n wingerd. Hy maak wyn, kannetjies vol daarvan, en drink met oorgawe. En wie kan hom kwalik neem? Ná maande van ingehokte familiedinamika - soos ons aan eie bas gevoel het tydens 2020 se grendeltyd - sou menige van ons dalk ook eerste die bottels oopgemaak het om die spanning te ontvlug. Noag, ook maar net mens oordoen dit ongelukkig. Die gisdampe vat hom; hy raak dronk en hy val in ’n diepe slaap. Poedelnakend kaal. Weliswaar in die privaatheid van sy tent. ’n Ruimte wat blykbaar nie so privaat was in sy tyd nie. Só lê hy daar: ’n patriarg in ontblotenheid, ’n profeet in sy kwesbaarheid.

Sy middelkind, Gam, kom daarop af. Maar in plaas daarvan om ’n mantel van liefde te neem, kies hy om te ontbloot. Sy hart dra moontlik ’n ou wrok, en daardie innerlike houding kry gestalte: nie in 'n daad van bedek nie, maar in uitwysing. Hy gaan en vertel sy twee broers van hul pa se naaktheid - soos iemand wat vandag ’n TikTok-video sou versprei van ’n familieskande wat privaat moes gebly het. Die verhaal sê nie eksplisiet dat Gam se seun Kanaän betrokke was nie. Maar wat later volg - Noag wat Kanaän vervloek en nie vir Gam nie - laat ons vermoed dat Noag sy nageslag goed genoeg geken het en geweet het dat die DNA van swak karakter verder gaan strek as net een generasie.

Hier teenoor tree die ander twee seuns, Sem en Jafet, heeltemal anders op. Hulle neem ’n mantel, loop agteruit in hul pa se tent in, kyk nie, loer nie, maar bedek sy naaktheid met respek en liefde. Waar Gam ontbloot, kies hulle om te bedek. Dis ’n daad van eer wat teen die verdoemingskultuur indruis. ’n Liefdesmantel teen die storm van oordeel.

Hieruit leer ons, wanneer die familiebalans wankel, raak die dek van die familiebootjie nie net onstabiel nie - dit ontbloot, dit bloei. Die reling van liefde, daardie grens wat veiligheid bied, verloor sy simboliese krag wanneer daar nie meer die mantelwerk van vergifnis is nie. In dié waters van wrok begin die wrangheid van 'n verdoemingskultuur stilweg insypel. Nie as ’n brullende storm nie, maar as die sagte gedrup van kritiek wat eerder wil ontbloot as genees. ’n Oomblik van ongemak - ’n blik, ’n opmerking, ’n skuins herinnering, word stadig maar seker brandertjies wat karakter stelselmatig afkalwe. In plaas van broers wat mekaar privaat reghelp, word ons broers wat mekaar aan publieke blootstelling onderwerp. Die reling is steeds daar, maar die mantel van genade is afgehaal. En wanneer jy jouself ook daar bevind - op ’n gladde bodek sonder houvas - raak dit soveel makliker om te veroordeel as om te probeer herstel en te red wat te redde is.

Om terug te keer na die tevah. Tevah is die Hebreeuse woord wat direk vertaal kan word as 'houer', 'mandjie' of 'kis'. Jy kan dit ook 'n waterdigte houtboot noem. Die woord kom slegs twee plekke voor in die Bybel. As Noag se ark in Genesis 6 tot 9, en Moses se biesiemandjie op die Nyl in Eksodus 2:3. Tog is dit nie net 'n boot nie. Dit is die antwoord oor hoe jy jouself en jou geliefdes kan beskerm teen die gruwels van die hedendaagse samelewing.

In ’n wêreld wat besig was om te knak onder ongeregtigheid was die tevah God se reddingsboot vir die mensdom. Gebou volgens ’n hemelse plan, vir dié wat gehoorsaam was, was dit God se manier om 'n handjie vol mense veilig te hou teen die vloed wat die wêreld se duisternis sou skoonwas. 'n Nuwe begin. So ook is Christus ons tevah. Jesus is jou mantel van liefde. Hy is die enigste Een deur wie ons deur die konkelende waters kan vaar vanaf 'n plek van geestelike dood na 'n nuwe plek van ewige lewe. In Hom het ons ’n skans teen elke storm, ’n drywende geloofsruimte waar genade die kompas is, en liefde die seël. Net soos Noag moes glo, bou, en aan boord gaan, moet ons ook hoor en vergifnis vra vir ons ongehoorsaamheid. En dan in ’n stap van blinde geloof en vertroue om Christus as jou Verlosser te verklaar. Kom nou! Hy roep jou naam elke oomblik van jou lewe. Kom volg Hom, nie as toeskouers nie, maar as reisgenoot, as erfgenaam binne Sy genade. Want redding kom nie deur afstand nie, maar deur instap. Die tevah is ’n uitnodiging: klim in, laat die deur sluit, en weet, met Hom aan jou sy hoef jy nie die dieptes van enige verdoemenis te vrees nie.

Voordat ek volgende is om gekanselleer te word. Hierdie is geensins ’n pleidooi vir die verbloeming van ongeregtigheid of menslike wandade nie. My eie familie se bootjie was baie jare gelede, toe ek nog 'n kind was ook rondgeslinger deur die storms van die verdoemingskultuur. Dit was ongenaakbaar. Die berigte in koerante was niks teen die letsels wat die familie vir baie jare daarna moes dra nie. Ons familiebootjie het byna op die rotse van verwyt te pletter geloop. Heling het wel gekom toe die mantel van liefde daaroor getrek is. Vir die een was dit gebed, vergifnis en genade. Vir die ander, geloof en vertroue in 'n liefdevolle God wat vergewe. Ek bieg, vir my was dit 'n baie lang pad van hartswonde en woede tot by vergifnis. Eers toe kon ek sien die liefde bedek regtig alles, so ook die letsels. Al wat ek sê is: d**k twee keer voordat jy die regterstoel wil inneem oor ’n ander se sondes. As jy jou buurman se doen en late op openbare luidsprekers wil uitsaai, doen dit op só ’n wyse dat die regstelsel sy werk kan doen. Jy’s nie regter én jurie oor ’n ander mens se lewe nie. Die oordeel behoort aan God alleen.

En aan julle wat reeds in die skadu van die Groot Beskermer wandel, hierdie raad: bid én waak. Die geestelike gesin van Christus word van alle kante aangeval deur Sataniël en sy krygsmag, wat alles in sy mag doen om verwoesting in die kerk te saai. Gaan na jou binnekamer toe en vra jouself eerlik: Wie is ek? Is ek dié een wat ander bedek met die mantel van liefde, of blaas ek die klein vlammetjie aan tot ’n vuur wat verwoesting saai?

In kort: Hou op skinder op WhatsApp oor Suster Lenie se slap melktert. Nooi haar liewer vir ’n bak-en-brou-kursus. Wat jy betaal. Glo my, jy sal nooit weer vir ’n soet dingetjie hoef te smeek nie. Boonop word sy dalk jou grootste kampvegter wanneer die swaard van verdoeming eendag in jou rigting swiep.

Elke nou en dan gaan maak ek ‘n draai by Genesisstraat 4. Dit is die adres van Adam se twee seuns, Kain en Abel. ‘n Plek...
17/07/2025

Elke nou en dan gaan maak ek ‘n draai by Genesisstraat 4. Dit is die adres van Adam se twee seuns, Kain en Abel. ‘n Plek waar die gras altyd effens ongelyk groei en die spanning tussen broers dikker is as ’n Levitikus-offerhandleiding.

Ons weet nie hoe oud hulle was toe hulle familiedrama afgespeel het nie, maar ons weet hulle het gewerk om kos op die tafel te sit. Ja, hulle het elk ’n eie beroep gehad - Kain 'n landbouer en Abel 'n veeboer. Maar dit is nie net beroepe nie. Wat hulle gearbei het was deel van elkeen se hartlandskap; ‘n spieëlbeeld van sy persoonlike verhouding met die Hartkenner. Soos ons leer uit hulle storie was dankbaarheid ‘n groot ding vir die Hartkenner. Dit is ook nie net vir dankie sê en daar gaan jy nie. Nee, jy moet die toestand van jou hart duidelik tentoonstel deur gereeld ‘n minchah by die voetstoel van die Hartkenner te gaan neersit. So gereeld soos na elke oes. Toe was dit seker so een maal per jaar. Nou se dae moet mens dit een maal per maand doen.

‘n Minchah is nie net ‘n tasbare geskenk of 'n offerhande om dankbaarheid te betoon nie. Die Hebreeuse woord dra veel meer as net “hier’s iets vir jou”. Dit is eerder “hier’s ek, my hele hart vir U.” Dis die soort geskenk wat nie by ’n winkel gekoop word nie, maar in die binnekamer van jou siel gevorm word tussen die sweet van jou aangesig en jou persoonlike verhouding met die Hartkenner.

By Genesisstraat 4 maak Abel soos altyd die tentflap oop met ’n sagte glimlag en ’n lammetjie onder die arm. “Welkom,” sê hy, “ek het pas my minchah voorberei.” Dis nie net ’n offer nie, dis ’n liefdesbrief in wol toegedraai. Hy streel die lam se ore soos ’n kind wat weet sy geskenk is nie perfek nie, maar wel opreg. Ek sien in sy oë daardie geloof waarvan Hebreërs 11 praat - die soort wat nie vra vir beloning nie, maar vir Goddelike nabyheid.

Intussen sit Kain onder die rietdak. Met ‘n bos piesangs in die hand en ’n vreeslike frons tussen die oë. “Ek het ook gegee,” sê hy, “maar kyk hoe kyk God my nie eers aan nie.” Hy gooi die piesangs in die komposhoop met ’n dramatiese sug. Ek wil vir hom sê: “Kain, dis nie die piesang nie, dis die hart wat dit vasgehou het.” Maar ek bly stil. Want ek weet - selfs in sy teleurstelling is daar ’n seer soekende mens.

God kom ook verby. Nie met donder nie, maar met ’n fluistering. Hy kyk na Abel en glimlag. Hy kyk na Kain en vra: “Hoekom is jy kwaad? As jy reg doen, sal jy nie ook aanvaar word nie?” Dis nie ’n afkeur nie, dis ’n uitnodiging. ’n Kans om weer te probeer. Om nie in bitterheid te bly nie, maar in verhouding te groei.

Maar Kain hoor nie die uitnodiging nie. Hy hoor net die stilte ná die afkeur. En in daardie stilte broei jaloesie soos gis in ’n warm kombuis. Toe sy donderbui by oorloop gaan draai, nooi hy Abel vir ’n stappie in die veld - nie om te gesels nie, maar om te ontlaai. En daar, tussen die gras en die klippe, gebeur die eerste moord. Nie omdat God wreed is nie, maar omdat Kain weens woede so hartblind geword het dan hy nie kon insien dat liefde nie verdien word nie - dit word ontvang.

So baie het verander na daardie dag van die moord. Abel is nou net grassprietjies. Kain het verdwyn tussen die kliprante en doringbosse. En God? Hy loop nog daar rond, roepende: “Waar is jou broer?” Nie omdat Hy nie weet nie, maar omdat Hy wil hê ons moet weet. Dat verhouding met Hom altyd ook verhouding met mekaar is. Ja, selfs in die middel van ‘n tragedie is daar ’n God wat nie wegdraai nie. Wat selfs vir Kain ’n merk gee - nie as straf nie, maar as beskerming. Want selfs die een wat net ’n bossie piesangs kon bring, is steeds ’n kind gemaak van God se Stof én Asem.

Genesisstraat 4 is nie meer ‘n adres met ‘n tent nie. Nou staan daar ‘n huis met ‘n voorstoep en my naam is op die posbus geverf. Vriend Paulus noem dit ‘n tempel. (1 Korintiërs 6 vers 19 tot 20.) Nou, ek weet nie so mooi van ‘n tempel nie, daar is so baie krake in die mure en die jaart is gereeld vol onkruid, al skoffel ek daagliks. Dit breek ook jou rug om die bome in die boord gereeld te snoei. Vreemd genoeg is dit die kompos wat dig by die stamme ingewerk word wat dit laat vrugte dra. Hoe ironies is dit nie?

Ek moet bieg, ek bring soms ook maar net ’n halfryp vrug as ‘n minchah. Maar ek leer by Abel om dit met geloof te bring. En ek leer by Kain om nie weg te loop nie, maar terug te draai. Want die deur by Genesisstraat 4 se kosyne is nou geverf met die bloed van die Lam. Daardie dag toe Jesus Christus vir jou en my gesterf het, het hy vir ons die grootste minchah gegee wat ons ooit kon hoop om te ontvang: Sy genade, Sy liefde, Sy barmhartigheid en bowenal ‘n erfdeel en 'n nuwe woning in die Koningkryk van God.

Om jou dankbaarheid te wys vir die groot geskenk vra Jesus jou ook eintlik niks anders as die opregtheid van jou hart nie. Hoe jy dit gee is 'n saak tussen jou en Hom.

As jy meer wil weet oor die genadegeskenk van Jesus en hoe dit jou tent kan verander in 'n tempel, kontak my vandag nog.

09/07/2025

Kom ons staan vandag weer ’n oomblik stil by daardie vroegste tyd in die tuin van Eden. Want, as ons eerlik is, daar’s darem ’n klomp dinge waaroor ons steeds wonder. Wat presies het dáár gebeur?

Die probleem is dat die antwoorde van die ou bome meestal soos gefragmenteerde ritselinge klink in ’n digte teologiese bloekombos. Selde hoor jy iets wat vars opklink vanuit die pulpitum. Soms, as genade ons vind, klink daar dalk ’n waarheid op uit die doksaal.

Vir dié van julle wat wonder wat ’n doksaal en ’n pulpitum is - dit is nie eksotiese groente of maermaakpille nie. Die doksaal is daardie deftige, antieke heining wat die priesterkoor van die gemeente skei in ou katedrale: die kerk se VIP-afskorting waarvoor net die liturgie ’n backstage-pas het. In der waarheid is dit net 'n sierlike muur vol geheime: hout, klip, en dogmatiese fluisteringe wat al vir eeue probeer keer dat gemeentelede per ongeluk op die altaar beland.

En die pulpitum? Dis die verhoog waarop die prediker staan - nie net om sigbaar te wees nie, maar om soos ’n hemelse megafoon te dien. ’n Goeie pulpitum laat jou glo die woorde val direk uit die koepel van die hemel, kompleet met pragtige akoestiek en eggo’s wat kompleet soos God se stem klink. Saam vorm hulle ’n kerklike duet: die een hou die ritueel geskei, die ander laat die boodskap weerklink. En iewers tussenin sit die gemeente… sommige met gretige ore, ander met skeptiese oë wat wonder: “Is daar nog iets nuuts onder die son?”

Voor ek nou te ver afdwaal soos ’n Lutherse lamentasie wat laag en doodstadig begin en ure later in ’n crescendo eindig, kom ons keer terug na die stilte van Eden.

Wat my die meeste fasineer, is die gedagte aan salige rustigheid - daardie toestand van vrede wat geheers het tydens die skeppingsdae. So stil en volmaak, dit klink amper te goed om waar te wees. D**k jou in: God, in Sy goddelike voldoenigheid, kyk toe, glimlag, en sê nie “goed genoeg” nie. Nee, Hy sê: “Baie goed.” Nie net mooi nie, maar vol van shalom.

Shalom is ’n Hebreeuse woord wat veel meer beteken as “vrede.” Dit dra die betekenis van heelheid, van volmaaktheid. Wanneer die Skrif daarvan praat, verwys dit na ’n omvattende toestand van harmonie, welstand en innerlike rus. In die reële wêreld kan ons dit beskryf as veilige verhoudings, genoegsame voorsiening en ’n diep geestelike balans. Op ’n spirituele vlak is dit nie bloot die afwesigheid van konflik nie, maar ’n toestand waarin “jou saak met God in orde is.”

Vanuit hierdie hoek kan ons ons voorstel hoe dit moes gewees het in daardie seisoen van vrede in die tuin van Eden: Adam besig met naamgee vir vlinders. Eva, blom in die hare, wandelend op mosbedekte paadjies, ’n handvol bessies vir aandete, ligjare weg van daardie moenie-magnie-boom.

En toe die Sabbat aanbreek, was dit nie net rus nie. Die lug was deurdrenk met tevredenheid. Alles in harmonie, alles op sy plek. Ek verbeel my die teenwoordigheid van die Skepper in die geur van Damaskusrose wat jy oral in die tuin kon ruik. Die mens volkome in ritme met God se hartslag. Stilte. Shalom. Wel. Dalk was hul enigste eksistensiële vraag: “Waarom smaak papaja so vreemd... en tog so lekker?”

Maar soos ek verlede week geskryf het, vermoed ek dit was die dag na die Sabbat waar die moeilikheid begin insluip het. Eers net ’n fluistering in die oor. ’n Suggestie: “Het God regtig gesê?” Toe ’n leuen, mooi verpak in ’n g***s van waarheid: “Julle sal beslis nie sterf nie… maar God weet julle oë sal oopgaan, en julle sal soos Hy wees.”

Die kosmiese siddering het nie gekom toe hulle van die vrug geëet het nie. Dit het gekom toe God vra: “Waar is jy?” En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin, en ek was bang, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.” (Genesis 3:10)

Hulle vrees vir God het die vrede geplunder. Die slang, kom ons noem hom Sataniël, kon nie die beeld van God in die mens uitwis nie, maar hy kon die mens se vertroue in God laat wankel. En só is die shalom gesteel.

Sedertdien is die mens op ’n konstante soektog. Nie net na waarheid of verlossing nie, maar na daardie innerlike rus wat Eden se aandwind steeds in jou binneste fluister.

Die antwoord op die mens se grootste verlange is eintlik: VREDE. Dit is vandag nog net soos 'n paar duisend jaar gelede. Toe het hulle dit anders gedoen. Vandag sit ons hekke voor ons poorte, maar wat ons werklik soek is veiligheid in 'n wêreld van anti-vrede. Ons drink pilletjies en kruieteetjies, stook lang pype gestop met halogeentwak, ruik dampe op van eksotiese sampioene, knoop onsself in jogaposisies, spandeer duisende rande aan selfhelpboeke en beoefen tegnieke om sogenaamde oomblik-bewuste ervarings te beleef. Jy kan kies waar jy jou geld wil spandeer, op watter ghoeroe, op watter illusie om die fisiese, geestelike, emosionele of hartlike smagting na vrede te vind. Ek oordeel jou nie, ek was self daar. Het alles probeer. Sonder sukses.

Wat ek geleer het? Ons hoop op liefde. Maar liefde sonder vrede… word self ’n oorlogsone. Wat ons werklik verlang is om stil te sit sonder ’n storm binne. Om weer rus te vind.

Jy kan vrede vind. Vandag. Nou op hierdie oomblik.

Maar daar is net een pad daarheen. Die pad saam met die Prins van Vrede. Jesus Christus. Net Hy kan jou stukkies optel, jou herstel, jou storm stilmaak. Hy sit die shalom terug in jou hart. Hy gee nie net vrede as geskenk nie - Hy is die geskenk. “My vrede gee Ek aan julle,” sê Hy. “Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Johannes 14)

Die aandwind van Eden het nie opgehou waai nie. God wandel nou tussen ons, nie meer net in Eden nie. En Hy vra steeds: “Waar is jy?”As jy vandag vrede wil vind, lig jou ken, steek jou hand uit en sê: “Ek is verlore, Jesus. Red my.”

En as bonus? Jy kry nie net aardse vrede nie. Jy word ’n seun of dogter van die Koning Jesus. ’n Mede-erfgenaam van ’n Koninkryk van God waar shalom vir altyd sal regeer.

As jy meer wil weet oor shalom, kontak my enige tyd.
🌿 Shalom!

Send a message to learn more

Die Agtste Dag is ‘n weeklikse rubriek waar ons na ‘n karakter in die Bybel se lewe kyk, hulle sosiale probleme en famil...
03/07/2025

Die Agtste Dag is ‘n weeklikse rubriek waar ons na ‘n karakter in die Bybel se lewe kyk, hulle sosiale probleme en familie intriges uitrafel, ons kop skud oor die idiotiese goed wat hulle aanvang, verbluf staan oor die stryd wat hulle gehad het om die strikke van sonde te oorkom en dan skielik besef dat dit so bekend klink. Want ons is nes hulle ook net mens en sukkel maar met dieselde goed in vandag se lewe omdat ons soos skape ons eie pad vat en dan die pad byster raak.

Genadiglik is daar ‘n Herder wat ons baie liefhet en ons van onsself wil red. Al wat Hy van jou vra is dat jy ‘n persoonlike verhouding met Hom het. Om Hom te leer ken, om Hom in te nooi om in jou hart te kom woon, om Sy genade vir jou te aanvaar. Hy wil hê dat jy die Ewige Lewe saam met Hom gaan deurbring. Om dit te doen is daar net Een pad; dit is om Sy geskenk van genade te aanvaar, sy seun Jesus Christus, wat ons sonde alles op Hom geneem het sodat ons gered kan word van die dood van sonde, om ons verhouding met God te herstel, Hom te leer ken, Hom lief te kry, meer as anige iets anders. Want in die Koningkryk van God is daar ‘n plek vir jou, waar jy nie net nog ‘n nommer gaan wees nie, jy gaan ‘n kind, ‘n erfgenaam van die Vader wees.

In hierdie weeklikse rubrieke leer ons God se wil vir ons ken deur Sy Woord te bestudeer. Ons leer uit die foute van die Bybelse karakters, nie met ‘n stywe bolip nie, maar met ‘n tikkie humor en baie deernis.

Neem deel aan die gesprek en kontak my gerus as jy meer wil weet.
Gryp die genade!

Groetnis
Madie

Address

Brummeria
Pretoria
0184

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Die Agtste Dag posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share