
24/07/2025
OUD-VOLKIE EN PERD WYS HUL SLAG BY UITMERGELENDE UITHOURIT
Grethe Deminey is klein en fyn, maar diè oud-Volkie het hope energie wat sy op 'n positiewe manier uiting aan gee.
Sy en die perd waarop sy gery het, Firefox, het die uitmergelende Fauresmith-uithourit vir die eerste keer aangepak. Slegs sowat 10% van die ruiters wat diè rit vir die eerste keer aanpak, kry dit reg om klaar te maak.
Grethe is tans besig met haar CCS-jaar
(Compulsory Community Service), nadat sy verlede jaar haar veeartsenykunde-graad voltooi het.
Die uithourit word jaarliks in Julie gehou. Dit strek oor drie dae (vanjaar was dit op 8, 9 en 10 Julie gehou) met 'n totaal van 204km. Dit was ook vanjaar die rit se 50ste vieringe.
Grethe het reeds op 5-jarige ouderdom begin perdry. Toe sy uitvind dat sy haar CCS jaar in Ladybrand gaan doen, het sy besluit om met Claire Amm kontak te maak. Claire het sowat 30 Fauresmith-uithouritte voltooi.
Om te kwalifiseer moes Grethe 2 x 80km en 2 x 40km uithouritte suksesvol aflê.
Vanjaar was daar sowat 280 inskrywings en net ongeveer 50% van die ruiters het die rit voltooi.
Na 'n totaal van 16 ure en drie dae in die saal, het hulle die uitmergelende rit voltooi.
Dit wil gedoen wees Grethe! Hou so aan.