Die Waarheid

Die Waarheid Ons bring jou op hoogte van die belangrikste nuusgebeure van die dag, kultuur, leefstyl, sport en me

https://www.facebook.com/share/p/1YZuUr7FeV/
16/09/2025

https://www.facebook.com/share/p/1YZuUr7FeV/

Gedigte deur Breg Joubert – 'n fluisterende meesterstuk

JASON MADA

Elke digbundel is 'n venster op 'n bepaalde innerlike wêreld. Die jongste toevoeging tot die Afrikaanse poësielandskap bied 'n gelaagde blik op identiteit, geheue en die spanning tussen stilte en spraak. Hierdie skrywe ondersoek hoe hierdie bundel deur sy temas, klankpatrone en beelde 'n unieke posisie inneem binne die breër tradisie van Afrikaanse digkuns.

Titel van bundel: Gedigte deur Breg Joubert

Uitgewer: HartWood Digitale Drukkers, 2025

Resensie: Gedigte deur Breg Joubert

Gedigte deur Breg Joubert is 'n digbundel wat nie skree nie — maar dit slaan jou asem weg, oorspoel jou sinne, trek tou met jou emosies en verinneweer jou gemoed met goedverkose woorde. Dié bundel is 'n monument van innerlike landskappe, geskryf in verse wat met die leser praat.

Joubert se temas is diep menslik: drome, gebede, natuur, herinneringe, en die broosheid van vrouwees, van menswees. Tog vermy sy clichés met 'n tegniese bekwaamheid en stilistiese fynheid wat haar werk laat uitstaan.

Die toon is meestal introspektief, met 'n onderliggende rouheid — maar nooit melodramaties nie. In gedigte soos “son se seisoenklere” beïndruk Joubert met haar woorde wat netsowel skilderye kan wees.

> “op die oewer van die horison
> lê die son naak
> haar somerbaadjie uitgetrek”

Die styl is minimalisties, met slim gebruik van enjambement en alledaagse Afrikaanse beelde. Taalgebruik is eenvoudig, maar psigologies gelaai. Sy vermy rym en voorspelbaarheid, maar nie resonansie nie.

Joubert se grootste krag lê in haar vermoë om emosie tussen reëls te plaas — die sogenaamde witruimtes dra net soveel gewig as die woorde self. Dit is veral merkbaar in die gedig “verslete volk”, waar 'n reël van net ses woorde 'n wêreld van verlies en seer openbaar.

> “verslete lê ons volk wêreldwyd versprei...”

Hierdie bundel is nie vir haastige lesers nie. Dit vra aandag, stilte en 'n sagte hart. Maar vir dié wat bereid is om stadig te lees, is dit 'n beloning van ragfyn taal en rou waarheid.

Gedigte deur Breg Joubert is 'n digbundel wat sy leser nie net ontroer nie, maar herskryf — 'n bundel wat die fluisteringe binne elkeen van ons herken en eerbiedig. Joubert het 'n bundel geskryf wat vir jare in herlees sal leef.

Hier antwoord Joubert self 'n paar vrae oor haar bundel:

Wat het jou geïnspireer om hierdie bundel te skryf?

My hoofrede was om al my gedigte in boekvorm te kry voor ek weer alles verloor soos met baie van my ou werke wat ek reeds verloor het. Ek wou ook hê dit moet dien as nalatenskap vir ons twee seuns en kleinkind(ers) omrede afstand mens amper vervreem van mekaar. Ek deel basies my karakter met hulle.

Is daar 'n oorhoofse tema of draad wat die gedigte aan mekaar bind?

Dalk net 'boodskap'.

My gunstelinge: geloof, hoop, omgee, passie vir bome veral vrugtebome (daar is geen groter vreugde en bewys van groter dinge wanneer saad ontkiem en groei tot 'n boom wat vrugte gee - so ook met die mens), menswees - liefde teenoor mekaar, die smal & die wye pad.

Het jy 'n gunstelinggedig in die bundel – en hoekom juis daardie een?

Almal is my werk en ek is tevrede met elkeen.

Hoe hoop jy lesers moet voel wanneer hulle die bundel klaar lees?

Die boodskap is om op te bou eerder as om af te breek. Hopelik om die leser stof tot nadenke te gee en dalk insigte tot verbetering van die self. Ek wil die leser laat verstaan niemand is perfek nie. Almal maak foute en almal kan weer opstaan. Dit is 'n keuse wat net jy kan maak. Daar is altyd hoop ongeag wat in jou lewe gebeur. Wat jy daarvan gaan maak gaan afhang van jou eie besluite.

Hoe verskil jou skryfproses vir poësie van ander skryfwerk wat jy doen?

Ek skryf vir die gewone mense en probeer nie iemand beïndruk met onverstaanbare, hogere langdradige geskryf nie. My skryfproses bly maar dieselfde en word nie regtig beïnvloed deur spesifieke opdragte nie behalwe wanneer ek moet rym of spesifiek digsoorte moet doen. Ek doen nie juis ander skryfwerk nie, want my ingebore liefde lê by gedigte - meestal kort en kragtig.

Skryf jy elke dag of wag jy vir inspirasie?

Ek sal elke dag kan skryf, maar my bestaan is om skoon te maak, tuin te maak, te versorg en laaste om te skryf.

Niks hoef my te inspireer nie. Alles gaan vir my oor waarneming en of ek tyd het om te skryf. My gedagtes loop oor van besig wees, dit is dieselfde as hiperaktief wees - wat ek wel is. As kleuter wou ek baie graag skryf. Ek onthou die bladsye vol golwende strepies wat ek gemaak het wat kastig die woorde en sinne was van alles wat ek 'geskryf' het. Dit was dan in 'n koevert gebêre en in 'n laai weggesteek. My eerste woord wat ek kon skryf was die Engelse woord 'the'. Dit is die woord wat vir my die mooiste gelyk het en ek het my ma gevra wat die woord is. In daardie dae het ons nie geweet van tv of skool voor jy die dag skool toe gegaan het nie. Ek het ook glad nie van skool gehou nie omdat ek baie senuweeagtig was tussen so baie mense. Ons het in die bosse grootgeword (bosbou omgewing).

Het jy 'n spesifieke plek of ritueel waar jy die beste gedigte skryf?

Ek het geen ritueel nie. 'n Idee, gedagte of iets waaraan ek baie d**k skep die behoefte om te skryf en dan sal ek soms (nie altyd) alles los om dit gou neer te pen. Dit is soos 'n ingewing van die oomblik wanneer 'n liggie vonk.

Hoe hanteer jy dit as 'n gedig nie “wil werk” nie?

Geen gedig kan nie werk nie. Een woord kan 'n vonkie maak vir iemand. Nee wat, sou dit gebeur hy werk nie, dan verander ek 'n woord of reël of twee. Dit is soos en deel van die lewe.

Watter digters of skrywers het jou die meeste beïnvloed?

Nie een nie. Ek is nie 'n leser nie en het nooit die voorreg gehad om enige digbundels eers te gesien het of te besit nie tot verlede jaar (2024) toe ek 'n hele kas vol bundels deur die jaar aangekoop het - waarvoor ek tot vandag toe nog nie kans gehad het om te lees nie omdat ek in my tuin boer.

Het jou eie lewe en ervarings 'n groot rol gespeel in die bundel se inhoud?

Van dit en ander was opdragte van die diggroepe. Twee van die gedigte in my bundel het 'n foto elk van skildery wat ek geverf het (ek het geen benul van verf nie, maar ja, dit is my skilderye). Die enigste gedigte wat 'n foto (skildery) gekry het in die bundel, is visioen-drome wat ek gehad het. My ander visioene is in gedigte versteek in die bundel.

As jy jou bundel in drie woorde moet opsom, watter sou dit wees?

Alledaags, eerlik, verbeelding.

(My bundel se onderwerpe is so klein soos my kluisenaarswêreldjie met 'n tv en selfoon wat die res van die wêreld vir my wys.)

Wat het jou die meeste verras toe jy die gedigte later weer herlees het?

Niks nie, ek ken mos my werke - hoe kan ek myself verras.

Wie is Breg?

In een woord is ek 'n kluisenaar om nader aan die Here te leef en is besonder lief vir álles wat Hy geskep het. Mag herlewing seëvier in hierdie siek wêreld. Ek is doodgewoon en hou niks van fieterjasies nie. Streng, maar nie kwaai. Kan baie lag maar is ook baie ernstig. Mense loop maklik oor my; selfs my katte en al die goggas in die tuin. Ek het 'n groot, groot liefde vir die natuur en diere. Ek gee eerder as om op te gaar - ek is nie 'n spens of stoorkamer nie. Ek verkies baie eerder om minimalisties te wees. My wens is dat almal sal ophou mors (veral met kos) en ek wens ook mense kan leer om te herwin. Glas, metale, plastiek en papier hoort nie op ashope nie.

*** As jy nuuskierig is oor hierdie bundel, en een wil bestel, stuur asseblief ‘n WhatsApp na Magda de Korte by 076 845 7980. Die bundel van 245 bladsye kos R250.00 (plus R60.00 vir Paxi indien nodig).

https://www.facebook.com/share/p/19SxKNXT4A/
16/09/2025

https://www.facebook.com/share/p/19SxKNXT4A/

As al die Springbokke Afrikaanse tannies was…

JASON MADA – ‘n Tikkie humor

Eerstens: vergeet van die groen en goud. Die span sou op die veld draf in rokkies met blommetjies op, gemaklike skoene en natuurlik ’n handsak vol biltong, Rennies en ’n Bybelversie “vir ingeval”.

Die voorry? Drie tannies met kort hare en sterk arms van jare se brood knie. Wanneer daar geskrum word, hoor jy: “Jirre, my rug!” en “Skuif bietjie op, jy’s in my persoonlike ruimte!” Die ander span word eenvoudig uitgedruk deur skoon wilskrag en ’n stewige stoot vanuit die heup.

Die vleuels? Hulle hardloop nie noodwendig vinnig nie, maar jy sal hulle nooit vang nie, want tannies ken elke kortpad in die dorp. Dis links by die Spar, regs by die NG-kerk, deur die heining agter Oom Koos se erf – en skielik lê die bal agter die pale.

Strategie? Min rugbytaal. Jy hoor eerder:

“Los hom, ek sal hom later by die Here verkla.”
“Hardloop, boeta, of jy slaap vanaand sonder kos!”

En as daar ’n skeidsregter is wat ’n verkeerde besluit neem, spring al 15 tannies gelyk op: “Ag, shame man, jy kort net ’n beter bril! En druk sommer daai fluitjie in jou … ore.” Geen teenstander of ref wen ooit ’n argument teen ’n tannie nie.

Halftyd? Vergeet van energie-drankies. Daar word sop, en vetkoek met konfyt uitgedeel. Teen die tweede helfte lê die ander span in ’n voedselkoma op die gras.

Die eindtelling? Onbelangrik. Die tannies wen altyd, want voor jy huis toe gaan, kry jy nog ’n bak Tupperware-kos “vir die pad”.

https://www.facebook.com/share/p/1FzHfF7fMe/
16/09/2025

https://www.facebook.com/share/p/1FzHfF7fMe/

‘Tinder Swindler’ in Georgië gearresteer op Interpol-lasbrief

Simon Leviev, die Israeliese bedrieër wat berug gemaak is deur Netflix se ‘The Tinder Swindler’, is in Georgië in hegtenis geneem op 'n Interpol-lasbrief, berig plaaslike media.

Leviev, wat voorgegee het dat hy die seun van die miljardêr Lev Leviev is, het vroue wat hy op Tinder ontmoet het, uit 'n geraamde $10 miljoen bedrieg deur 'n vals lewe van luuksheid voor te gee en hulle toe te oorreed om geld oor te handig wat hy nooit terugbetaal het nie.

Sy prokureur het gesê hy het sonder beperkings gereis voor die inhegtenisneming. Leviev het voorheen tronkstraf in Finland en Israel uitgedien vir bedrog, vervalsing en diefstal.

In 2024 het 'n hof in Tel Aviv hom gelas om een slagoffer meer as $120,000 terug te betaal. Hy staar ook nuwe regsgedinge van ander vroue en van die Leviev-familie in die gesig vir reputasieskade.

https://www.facebook.com/share/p/1A7LVrwfTU/
16/09/2025

https://www.facebook.com/share/p/1A7LVrwfTU/

IOL: ANC-amptenaar waarsku teen spanning in Suid-Afrika se koalisieregering

Die eerste adjunk-sekretaris-generaal van die African National Congress (ANC), Nomvula Mokonyane, het gewaarsku dat Suid-Afrika se Regering van Nasionale Eenheid (RNU) kan ontbind tensy koalisievennote groter dissipline en toewyding toon.

In 'n onlangse onderhoud het Mokonyane erken dat die RNU 'n "strategiese terugslag" vir die ANC was, maar een wat deur die kiesers afgedwing is. Sy het gesê die koalisie kan tot die volgende verkiesing voortduur as partye saamwerk - maar het die Demokratiese Alliansie (DA) as die grootste risiko uitgesonder en dit daarvan beskuldig dat hulle probeer om beide as regeringsvennoot en opposisie op te tree.

"Die DA is skuldig aan wangedrag... hulle het gedreig om die begroting teen te staan en die president te ondermyn," het Mokonyane gesê en gewaarsku dat sommige binne die party openlik praat oor die vernietiging van die ANC.

Sy het egter beklemtoon dat die GNU nie sou ineenstort as die DA vertrek nie, alhoewel nuwe onderhandelinge met ander partye nodig sou wees. Pogings om groepe soos die EFF, MK Party en Vryheidsfront Plus in te sluit, word gekniehalter oor wat Mokonyane "onmoontlike eise" genoem het, soos om president Cyril Ramaphosa te verwyder.

Mokonyane het ook erken dat die ANC gesukkel het om die koalisie effektief te bestuur en nie daarin geslaag het om duidelike strukture vir regering te stel nie. "Ons het aangeneem dat almal verstaan dat hulle op versoek van die president dien. Maar sommige tree op soos DA-ministers, al bestaan nie so 'n rol nie," het sy gesê.

Ten spyte van die spanning het Mokonyane gewys op haar eie kruispartybande en hartlike verhoudings met Afrikanerbure in Krugersdorp en selfs sommige opposisieleiers. Sy het gesê sy kan tee drink met die EFF, IFP of Patriotic Alliance - maar het die streep getrek by koffie met DA-staatmaker Helen Zille.

Uiteindelik, het Mokonyane aangevoer, moet die ANC minder fokus op "koalisie-chaos" en meer op sy eie hernuwing as hy hoop om die land se politieke anker te bly.

https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=122158322396758432&id=61572752972251&mibextid=Nif5oz
16/09/2025

https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=122158322396758432&id=61572752972251&mibextid=Nif5oz

Pieter Paljas se Towerbeentjies (Hoofstuk 28) – Deur Sonja Brown

Ons kry absoluut niks fout met jou nie. Jou litium vlakke is normaal, jou brein toon geen verkalking of bloeding nie, al jou bloedtoetse is normaal, en ek is oorbluf. Die dokter.

Die dokter se hand het effens gebewe. Hy moes nou ‘n gewigtige besluit neem wat sy loopbaan gaan maak of breek.

Jy is nou al twee weke uit jou koma, en daar is geen teken dat jy spoke sien, of enige merkbare afwykings het nie. As jy sal instem om ‘n televisieonderhoud toe te staan en alles wat ek beweer, te staaf, teken ek jou ontslagvorm.

Enigiets! Ek sal enigiets doen.

Maar natuurlik, Dokter. Jy is per slot van sake die een wat my genees het. Wanneer wil jy die onderhoud doen? So gou as moontlik, asseblief tog!

Is môre-oggend te gou vir jou?

Nooit! Dis perfek! Dokter. Ek is gereed vir ‘n nuwe lewe. (En om Ma Hettie en haar trawante op te donner. Sy het per slot van sake gesorg dat ek vir baie maande buite kommissie was…)

Ons het hande geskud. Ek was so opgewonde dat ek skaars my middag- en aandetes kon eet. Môre was ek uit hierdie plek, en terug op my pos. Ek sou hulle wys…

***

Jy soek vir moeilikheid.

My nekhare het regop gestaan.

Dit was skuins na vier in die oggend en GrootPiet het hier langs my bed gestaan.

Verkeerd, beesblaas. Ek soek my lewe terug. Jy en daai vrou van jou het my van baie dinge in die lewe beroof, en ek wil die laaste paar jare van my lewe so normaal as moontlik probeer aangaan.

Vir wie probeer jy bluf? Ons weet presies wat in daardie deurmekaar kop van jou aangaan.

Ja, ja. So wat gaan julle doen? My weer ‘n nagmerrie laat kry sodat ek weer iemand se vinger moet afbyt om te oorleef? D**k jy dit was reg om my te probeer vermoor? Hé? Julle het nie geweet dat ek ‘n vegter was nie, my ou. Ek sal baklei totdat ek my laaste asem uitblaas, met of sonder Ma Hettie se hulp.

Jy moet die hele ding los voordat dit te laat is. Hettie laat nie ‘n bespotting van haar en haar voorvaders maak nie.

Nou toe, vertel my bietjie wat sy beplan. Miskien skrik ek so groot dat ek net hier moed opgee en julle uitlos! Dis mos wat julle wil hé, dan nie?

Ek kan jou nie sê nie. Hettie is klaar vies omdat ek jou dinge vertel het wat ek nie moes nie.

Ooo. Dit verduidelik dan hoekom sy my mond wou snoer. Ek weet te veel. Nie waar nie? My mond moes gesnoer word voordat ek kon ontslaan word, want anders leef julle soos ek, loerend oor die skouer om te sien wie jou bekruip…

Dit is waar. Daarom moet jy nou opgee en net huis toe gaan. Moenie eers probeer om haar te stop nie.

Te stop? Vir wat? Om te keer dat sy julle huis in ‘n klein kissie pak om te bôggerof? Vir wie sal ek dit kan vertel en hoop dat hulle my sal glo? D**k jy ek is regtig mal? Ek probeer hier uitkom deur net myself te wees en normaal voor te kom. Ek kan mos nie nou sulke dinge loop en verkondig nie. Ma Hettie is manies. Sê vir haar ek sê so.

Jy mors met verkeerd mense.

Is sy ‘n mens? Ek wonder partykeer daaroor, weet jy? Sê my, GrootPiet, hoe gaan jou hele familie verdwyn sonder om vrae te laat? Die munisipaliteit het tog julle rekening op rekord, en…

Ons gebruik nog altyd krag-opwekkers, en ons het ‘n boorgat.

Erfbelasting. Almal betaal tog erfbelasting.

Dis vooruit betaal op my naam. En ek is mos nou dood.

Ja? En skoolrekords vir jou seun?

Jy het ‘n punt daar beet. Ma Hettie het nie daaraan ged**k nie. Sy sal almal se geheues moet uitwis wat die Pansegrouws betref.

Ja right! Dit wil ek nog sien. Wie de duiwel is sy? Die superheks van Endor?

Hettie is magtige en alomwetend. Sy kan dinge doen wat jou verbysterd sal laat.

Nee, dankie! Ek is reeds verbysterd oor my drome en die koma waarin ek was. Los my net uit!

Nou los óns dan uit.

Gee my twintig jaar om daaroor te d**k.

Ek speel nie. Jy mag dalk soos ek opeindig. Al verskil sal wees dat jy nie hier sal ronddwaal nie, jy sal reguit hel toe gaan.

O, en d**k jy nie dat ek alreeds in die hel is nie? Magtig, man, ek kan die duiwel ‘n ding of twee leer as ek Hettie met hom moet bespreek. Ek kan ‘n kom-ons-aap-Hettie-na sindikaat stig en die duiwel se beste kandidaat wees.

Ek kan sien dat jy nie na rede wil luister nie. D**k daaroor. Ek sal jou weer opsoek.

Hy was weg. Sug. Nog twee ure voordat ek ontbyt sou kry, die onderhoud moes voer, en dan was ek hier uit. ‘n Lang stort kon nie die opgewonde rillings wat deur my getrek het, weg was nie. Ek was op pad…

Waarheen?

Is jy siek? Mans stort nie saam met ander mans nie, en nog minder saam met spoke nie. Gaan weg, GrootPiet. Jy maak my skaam.

Jy? Skaam? Jy weet nie wat skaam beteken nie. Jy is soos ‘n bul wat deur die strate van Pamplona hardloop, en al die jong mense wat opwinding soek, deurboor. Net jy kan die bloedvergieting stop. Doen dit.

Bloedvergieting? Waarvan praat jy?

Jy sal sien as jy nie nou ophou met jou dinge nie.

Ek het so ‘n oomblikkie ged**k. Kom ek sê jou wat. Ek sal vir twee weke van julle nek afbly totdat ek besluit het wat ek wil doen.

Twee weke sal jou nie van besluit laat verander nie. Ek ken jou al baie jare.

Kom ons sê dat daar hoop is. Skoert nou, ek is besig. Twee weke, dis al wat ek vir nou belowe.

Die man was woedend maar hy het geluister. Die stort se water wat nou oor my gespoel het was yskoud. GrootPiet, jou vark! Hy het die warm kraan toe gedraai.

Die ontbyt was weereens smaakloos, die onderhoud het volgens plan verloop, en hier was ek, tassie in die een hand (vinger en al) en ontslagbriefie in die ander, op die trappe van my voormalige tronk. Die lug was skoon, die gras was groen, en ‘n skoenlapper her verwelkomend by my verbygevlieg. Welkom terug in die wêreld, het ek vir myself gefluister.

Kan ek jou huis toe neem?

Jinne, Mamma, dis nou vir jou ‘n verrassing, maar sal jy omgee as ek dit van die hand wys en huis toe stap? Ek was maande laas op straat en ek wil graag na al die dinge kyk wat ek gemis het.

Mamma se dun lippies het my gewys dat sy nie tevrede was nie. Wat was haar probleem? Was sy een van Ma Hettie se spioene? Dit moes wees, want vir wat sou sy elke dag langs my bed gesit en kastig stories voorgelees het as sy nie daar was vir ‘n spesifieke rede nie?

Ek was seker dat sy my vordering moes dop hou. Of my moes vermoor. Ek het skielik onthou hoe sy met ‘n kussing by my bed gestaan het. Ja-nee, Mamma, jy was op die Pansegrouws se staf-lys. Daarvan was ek seker.

(Word vervolg…)

https://www.facebook.com/share/p/1YmrN64iaG/
15/09/2025

https://www.facebook.com/share/p/1YmrN64iaG/

Vandag begin ons met ‘n lekker tong-in-die-kies weeklikse rubriek getiteld: Troos, Tannies & Tisjoes

Waar jou Boere-sepie op skrif geplaas word.

Liewe Tannies,
My buurvrou leen altyd my mooi Pyrex-bakke. Sy bring dit meestal terug sonder die deksels, met ’n paar skrape by, en laas keer selfs met ’n stukkie lasagne wat lyk asof dit al in 1997 gebak is. Ek wil nie ’n vriendskap verbreek nie, maar my bak-arsenaal is onder aanval. Wat doen ek?

Tannies antwoord:
My kind, ’n bak sonder deksel is soos ’n man sonder plan – nutteloos. Koop sommer vir haar ’n eie stel (goedkoper) bakke wanneer sy verjaar. Alternatief? Gee vir haar volgende keer net die bak sonder die deksel. Nadat jy al jou bakke en deksels terug het, natuurlik. Dan moet sy eers uitwerk hoe sy dit gaan gebruik, want jy sit met dieselfde penarie.

https://www.facebook.com/share/p/1ZrCFhs72X/
15/09/2025

https://www.facebook.com/share/p/1ZrCFhs72X/

Suid-Afrikaanse mans wen die reg om hul vrouens se vanne te neem

Suid-Afrika se Konstitusionele Hof het beslis dat mans nou wettiglik hul vrouens se vanne na die huwelik mag aanneem – 'n reg wat lank reeds onder die siviele registrasiewet ontken is.

Regter Leona Theron het die uitspraak gelewer en gesê die vorige raamwerk is gewortel in die koloniale era se patriargie, waar daar van vroue verwag is om hul eie identiteite te laat vaar. Die hof het bevind dat die ontsê van mans dieselfde keuse neerkom op onbillike geslagsdiskriminasie.

Die uitspraak, wat as "histories" beskou is, het gevolg op uitdagings deur twee paartjies wat verhoed is om nuwe vanne te registreer. In een geval is Henry Van Der Merwe verbied om sy vrou Jana Jordaan se van te neem. In 'n ander geval is Andreas Bornman verhinder om sy van met sy vrou Jess Donnelly s'n te koppel.

Die uitspraak gee die Parlement 24 maande om die wet op te dateer of nuwe wetgewing op te stel.

Oor 'n groot deel van Afrika geld soortgelyke beperkings nie. In Kenia en Nigerië kan volwassenes hul name vrylik verander deur middel van 'n akte van meningspeiling, terwyl Zimbabwe 'n notariële akte en kennisgewing in die staatskoerant vereis. In Noord-Afrika bly vanveranderinge egter streng beperk, met eggenote wat oor die algemeen hul geboortename moet behou.

Deur die ou reël te skrap, het die hof die weg gebaan vir Suid-Afrikaanse mans om 'n persoonlike keuse terug te eis wat lank gevorm is deur ingevoerde koloniale norme.

https://www.facebook.com/share/p/1CtXEXyjfF/
15/09/2025

https://www.facebook.com/share/p/1CtXEXyjfF/

As al die Springbokke Engelsmanne was…

JASON MADA – ‘n Tikkie humor (in gemengde taal)

Die Springbokke draf die veld op, maar natuurlik in drie lae woltruie, ’n das en ’n reënjas – want jy weet mos, dit kan enige oomblik begin reën, selfs in Bloemfontein.

By die afskop kyk die heelagter eers na die skeidsregter en vra beleefd:
“Excuse me, sir, would you mind terribly if I kicked this ball?”
Teen die tyd wat hy klaar gepraat het, het die bal al omgeval.

Die skrum lyk minder soos ’n geveg en meer soos ’n tee-party. Almal buig galant, en die kaptein vra:
“One lump or two, old chap?”

Die vleuels hardloop glad nie – hulle wandel vinnig, soos in Hyde Park, terwyl hulle kla oor die gras:
“Bit rough on the edges, don’t you think? Could do with some trimming.”

Elke keer as ’n flank ’n teenstander te hard takel, vra hy onmiddellik:
“Terribly sorry, old boy, frightfully clumsy of me. Do carry on.”

Die afrigter? Hy sit onder ’n sambreel, teelepel in die een hand, skinkbord vol scones in die ander. Sy pep talk is eenvoudig:
“Now then, gentlemen, let’s try to win, but whatever happens, keep calm and carry on.”

Teen die tweede helfte vra die span of hulle nie dalk die wedstryd kan uitstel tot ná tee nie, want niemand speel regtig lekker op ’n leë maag nie.

En die eindtelling? Wel, dit maak nie saak nie – want selfs al verloor hulle met 50 punte, verklaar die Engelse Springbokke dit steeds ’n “moral victory.”

https://www.facebook.com/share/p/1BgCngEjUr/
15/09/2025

https://www.facebook.com/share/p/1BgCngEjUr/

IOL: Suid-Afrika finaliseer aanstelling van nuwe ambassadeur in die VSA

Suid-Afrika finaliseer die aanstelling van 'n nuwe ambassadeur in Washington, het president Cyril Ramaphosa gesê en 'n ervare, wêreldwyd skerpsinnige diplomaat met diepgaande kennis van die Amerikaanse politiek en markte belowe.

Dit is terwyl Pretoria sy buitelandse beleid herkalibreer te midde van veranderende globale alliansies.

Die binnekort aangekondigde gesant, het Ramaphosa Dinsdag aan die Parlement gesê, sal 'n ervare, wêreldwyd ingestelde leier wees met diepgaande kennis van internasionale politiek en die Amerikaanse mark.

“Dit is die tipe persoon wat ons gaan aanstel,” het Ramaphosa gesê.

“Lande deesdae, omdat die geopolitieke situasie soveel verander het, krap hul koppe om die geskikste mense te vind wat hulle in verskeie markte kan ontplooi... en ons doen dieselfde.”

Die opmerkings kom te midde van verhoogde diplomatieke sensitiwiteit in globale betrekkinge, veral terwyl Washington en Pretoria steeds komplekse bilaterale bande navigeer wat gekenmerk word deur handel, sekuriteit en globale herbelyningspanning.

Opmerklik was voormalige adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, op 'n stadium vir die invloedryke pos geoormerk, volgens die regering.

Jonas, 'n prominente figuur in beide Suid-Afrikaanse politieke kringe en op die internasionale verhoog, is steeds in Ramaphosa se boeke.

Sy aanstelling sou 'n sterk sein gestuur het aan beide markte en politieke waarnemers van Pretoria se voorneme om ervare leierskap in Washington te prioritiseer.

Jonas het prominensie verwerf na sy openbare standpunt teen staatskaping tydens die Zuma-administrasie, wat geloofwaardigheid verwerf het as 'n hervormingsgesinde en 'n beginselvaste figuur.

Die redes vir die vertraging of verskuiwing in die nominasie bly egter onduidelik.

Ramaphosa se kommentaar dui daarop dat die regering sy diplomatieke korps nouer in lyn bring met globale strategiese eise.

“Ons sal 'n aantal ander na ander markte en plekke ontplooi,” het hy opgemerk, wat sinspeel op 'n breër diplomatieke herkalibrasie.

Namate Suid-Afrika homself in 'n toenemend multipolêre wêreld wil laat geld, sal die volgende ambassadeur in die VSA 'n kritieke rol speel – nie net om Pretoria se belange te verteenwoordig nie, maar ook om die toon en inhoud van 'n belangrike bilaterale verhouding te herkalibreer.

https://www.facebook.com/share/p/1HZ5BqqhJD/
15/09/2025

https://www.facebook.com/share/p/1HZ5BqqhJD/

Pieter Paljas se Towerbeentjies (Hoofstuk 27) – Deur Sonja Brown

“Klim uit, hulle sal nie byt nie,” het meneer geblaf. “Ja right, meneer het so baie vet, meneer sal nie eers voel as hulle daai enorme tanne in meneer wegsink nie. Vir my byt hulle dié pypies mors-af in een beweging,” het Sakkie onderlangs gebrom.

Die twee plaaswerkers, Sipho en Goodwill, het Sakkie so onderlangs beloer terwyl hulle die sleepwa afgehaak het. Hulle het nog nooit so ‘n klein mannetjie met sukke groot boude gesien nie. Toe dit begin donker word, is Sakkie is aangesê om saam met dié twee na hulle kamer te gaan, want dit was waar hy die aand sou slaap. Gelukkig kon hulle Afferkaans praat want hy wat Sakkie is ken net daai een vieslike vloekwoord in Zulu. Of is dit nou Xhosa?

In die kamer sit die drie mekaar so en aankyk terwyl hulle om die klein kombuistafel vergader. Sakkie vrek vir ‘n zol, maar hy is te bang om te beweeg. Toe sy lus nou behoorlik uithang, maak hy die papiersak op sy skoot stadig oop en sê ‘twak’, net in case hulle d**k hy pluk een of ander wapen uit.

Die ander twee het so breed gesmile dat jy net wit tande gesien het. Sakkie was groen van jaloesie, want sy tande het lankal die gees gegee. Mind you, Sakkie konnie onthou of hy ooit sukke wit tande gehad het nie.

Sipho het ‘n laai oopgemaak en iets wat in ‘n koevert onder die laai vasgeplak was, afgetrek. Die koevert het sulke fyn groenerige twak ingehad.

Goodwill het Sakkie se pakkie Boxer gevat en die groen twak daarin gegooi en die lot geskud terwyl Sipho drie stukkies van Die Herald afgeskeur het en op die tafel oopgevryf het. Drie ewe groot zolle is gedraai en so saam-saam aangesteek.

Sakkie kon nou nie agterna sê presies hoe lank hulle daar gesit het nie, maar hy het by die venster uitgekyk en gesien hoe ‘n Siamese kat netjies op sy vier pote land toe dié uit die boom voor die kamer gespring het. Sipho en Goodwill was nie verbaas to Sakkie begin lag het nie. Hulle het geweet dat hulle hom nou-nou gaan join. So een vir een het die plaashuis se ligte begin afgaan totdat dit heeltemal donker was. ‘Kom,” het Goodwill gesê. “Maar trek eers uit djou klere.”

Drie donker kaalbasse is reguit koidam toe. Daar het hulle al giggelend tussen die duur visse rond geplas. Sakkie het een gevang, hom gesoen en sy lippe soos ‘n vis probeer omrol. Sipho en Goodwill het beurte gemaak om op die duur meermin se sement skoot te sit, en saam met die seuntjie-standbeeld wat piepie, dieselfde in die water gedoen. Daarna is Sakkie aan die arm agter Sipho aangetrek, reguit na die splinternuwe Landrover Discovery wat nog papier-nommerplate het, en wat onder die afdak gestaan het.

Soos ‘n wafferse Tarzan het Goodwill met sy nat bas agter teen die klein leertjie opgeklim, saggies oor die dak geloop en in een beweging teen die vooruit en enjinkap afgegly. Sipho het presies dieselfde gedoen en al laggende in die blombedding geland. Sakkie het hom nie twee maal laat nooi nie en kort voor lank lê hy langs Sipho in die dahlias, die een Landrover spotlight netjies tussen sy knieë vasgevang.

“Ladu-u-u-uma-a-a-a!” het Goodwill gefluister.

Die drie trawante is daar weg, reguit vrugteboord toe. “Uitvoervrugte,” het Sipho met sy pinkie in die lug gesê terwyl hy ‘n groot kaalperske pluk en ‘n reuse hap daaruit vat. Ná nog ‘n hap het hy op Sakkie afgestorm en hom oral toegetakel en met perskesap besmeer. As mens dié drie kon sien so jy sweer hulle was gerook! Hulle het soos tieners deur die boorde gehardloop, perskes gepluk, en mekaar óf gegooi daarmee, of ‘n hap of twee gevat en mekaar goed ingevryf, dit alles terwyl hulle geskreeu het van die lag.

Net voor sonsopkoms is die drie kamer toe. Alles aan hulle was taai. Toe Sakkie op die stoel sit en wou opstaan, het die melamienstoel aan sy groot boude vasgeplak. Die ander het gelag terwyl hy so met die stoel agter hom al in die rondte geloop en gekloek het soos ‘n hen.

“Eish! Die son hy gaan nou opkom,” het Goodwill gelag. “Dan gaan die baas ‘n coronary kry as hy sien hoe die vrugteboord lyk. Kom, ons shower gou en maak of ons geslaap het.” So gesê, so gedaan.

Dit was vir Sakkie baie moeilik om ‘n reguit gesig te hou toe Meneer al om die Landrover loop met ongeloof in sy blou oë, en dan sy neef in die huis gaan bel . “Ja Bertie, dit lyk my die blerrie bobbejane het gisteraand weer mal gegaan hier op die werf. Wanneer kan jy vir my ‘n permit reël om die wetterse goed te skiet? Natuur-bewaring se guava! Ek weet nie wat hulle op my Landrover gesoek het nie, maar daar is strepe oor die bonnet. En die blerrie goed het my blomtuin verwoes.” Hy het nie eers gesien dat die lig afgebreek was nie.

Sipho het iets na meneer beduie.

Meneer het gevra Bertie moet aanhou. Sipho het met hom gepraat terwyl Sakkie en Goodwill kamtig die gemors kopskuddend geïnspekteer het. “Ja,” sê meneer, “Sipho sê my nou dat hulle nie kon slaap gisteraand soos die bobbejane in die vrugteboord tekere gegaan het nie. Ek sal vinnig ‘n plan moet maak om die peste aan te keer of te skiet. Dis te sê as ek ooit die blêddie goed te siene kry. Ek bly nou al vyf jaar hier, en hier word nou al vir vyf jaar verwoesting gesaai, maar ek kon nog nooit my oog op ‘n kees lê nie. Ja, ek weet hulle is skelm en kruip goed weg en trek oral rond…” sê meneer terwyl hy al om sy lessenaar loop.

Die drie het net vir mekaar geknipoog en die sleepwa gaan laai.

Al die pad huis toe moes Sakkie net op sy tong byt en himself keer om nie onbeheersd aan die giggel te gaan nie. Magtig, maar hy sal laaik om van daai Boxer te kry wat hulle gisteraand gerook het. En hy wat Sakkie was sal glad nie verbaas wees as daar nou skielik bobbejane daar in die Oos Kaap op die plaas ook opduik nie. Hoe sê meneer? Ja, ek weet bobbejane is skelm en kruip goed weg en trek oral rond…

Mamma het opgekyk. Gelukkig was my oë toe, en sy het ged**k dat ek slaap. Ek kon hoor hoe sy by die deur uitstap.

Ek het gegaap. Haha, mens sou d**k na vier maande se koma is mens moeg geslaap, en met hierdie snaakse gedagte het ek ingesluimer.

(Word vervolg…)

Address

67 Kittyhawk Street, Rhodesfield, Kempton Park
Johannesburg
1619

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Die Waarheid posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Business

Send a message to Die Waarheid:

Share