03/10/2025
Malmesbury-ma roep na hulp ná skaars- diagnose
’n Malmesbury-ma, Andrea Visagie, leef vandag in ’n stryd wat sy nooit kon voorsien het nie. Waar haar lewe eens normaal en vol planne was, het ’n gesondheidskrisis haar nou bedlêend gelaat, sonder die vermoë om self op te staan of rond te beweeg.
Haar verhaal is een van pyn, moed en ’n desperate behoefte aan hulp.
Alles het aan die begin van 2022 begin, toe haar bene begin opswel het.
Dit was rooi, pynlik en het gebrand soos vuur. Sy het ook hoë koors ervaar.
Dokters het haar gediagnoseer met cellulitis, ’n ernstige bakteriële infeksie in die vel en die weefsel daaronder.
Wat aanvanklik net soos ’n wond gelyk het, het vinnig vererger – die wonde het groter geword en versprei, totdat haar hele been agter beskadig was.
Sy het talle dokters en selfs ’n internis gesien, maar geen antwoorde of blywende oplossing gekry nie.
Steeds word sy bloot van pynmedikasie voorsien. Sonder ’n mediese fonds en met die beperkte hulp wat staatsdienste kan bied, is sy en haar gesin vasgevang in ’n stryd wat nie net fisies nie, maar ook finansieel ondraaglik geword het.
Vroeër vanjaar het Andrea die nuus ontvang dat sy ook elephantiasis het – ’n chroniese toestand wat nie genees kan word nie en wat haar reeds geswolle bene verder aantas.
Daarby is sy gediagnoseer met ’n vergrote hart, wat haar voortdurend uitgeput laat voel.
“Ek het geen energie nie. Ek is heeldag moeg, en die pyn hou net aan,” vertel sy emosioneel.
Sy erken dat daar dae is wat die emosionele las byna te swaar voel.
“Ek huil my dae om. Ek sit net en kyk hoe die tyd verbygaan, sonder hoop. Dis asof my lewe tot stilstand gekom het.”
In hierdie donker tyd is haar man, Ryno, haar steunpilaar.
Hy versorg haar en probeer die gesin se finansies staande hou, maar die verantwoordelikheid rus swaar op sy skouers.
“Hy doen meer as sy bes, maar ons kan eenvoudig nie meer byhou nie,” sê Andrea met waardering, maar ook met groot bekommernis.
Haar grootste rede om aan te hou veg, bly egter haar dogter, Caliyha, wat nou 14 jaar oud is.
“Sy het ’n gesonde ma nodig. Ek wil saam met haar die mooi dinge in die lewe ervaar – haar grootword, haar skoolloopbaan, haar drome wat waar word. Ek wil daar wees vir haar en vir my man. Ek wil weer die vrou wees wat hy verdien.”
Andrea se gesondheidstoestand en alledaagse realiteit het daartoe gelei dat sy heeltemal afhanklik is van ander se hulp om die basiese te doen en versorgers moet haar gereeld besoek om haar te draai, te help bad en om wonde te versorg. Sy kan nie alleen opstaan nie, sy het nie ’n rolstoel of ’n loopraam nie, en selfs eenvoudige basiese mediese benodigdhede is buite hulle bereik op hierdie stadium.
Sy deel haar verhaal met groot moed, maar ook met ’n nederige versoek.
“Ek is desperaat en ek vra nederig: as jy kan, asseblief help ons. Enige bydrae of ondersteuning kan my weer hoop gee, kan my dalk die kans bied om beter sorg te kry.”
“Ek wil weer hoop hê.
"Ek wil weer ’n bietjie kwaliteit van lewe hê.
"Ek wil weer ’n mens wees, nie net ’n pasiënt nie.”
Die gesin het 'n Back a Buddy-profiel geskep, met die hoop om donasies te ontvang.
Vir meer inligting, besoek https://www.backabuddy.co.za/campaign/hoop-vir-andrea-visagie-sellulitis-been