22/06/2026
Hy verstaan haar sigeunerhart ☕ Lees nou ’n stukkie uit Sigeunerliefde deur René van Zyl hier:
Plaça de Catalunya.
Die woorde teen die rooi metrostasiemuur dui aan dis haar stop, die een naaste aan Barcelona se Gotiese Oudorp. Karmen klou aan ’n p**l om staande te bly toe die trein met ’n uitasem snak tot stilstand kom. Dieselfde snak sidder deur haar toe die deure oopskuif en tientalle warm lywe haar hardhandig eenkant toe stamp om uit die bedompige trein te kom. Een van die stormramme skop haar bonkige reistas amper uit haar hande.
Sy is hondmoeg, maar sy weet dié is ’n lomp tas. Seker te groot vir publieke vervoer. Haar hele lewe is immers hierin geprop.
Met stampe en stote stoei sy vir haarself ’n pad deur die skare oop om betyds uit die trein te kom voordat die skuifdeure weer toegaan. Spitstyd in Europese stede is sy aan gewoond, ook die pendelaars se strak gesigsuitdrukkings wat op hul selfone gevestig is, almal op pad werk toe.
Vandag voel sy egter geïrriteerd. Eerder angstig.
“¿Dónde están tus modales, bárbaro inepto?” skel sy op die naaste ongeskikte ou – tipies soos haar Spaanse ouma dit sou doen. Nie dat sy wil nie. Sy wil juis nie soos Mercedes da Silva wees nie.
Hoekom wonder sy buitendien waar die mense se maniere is? Die barbaarse jongmense op die metro steur hul min aan haar wat blykbaar soos ’n besoeker lyk met haar bont kaftan, ekstreme bruin krullebos hare en Palestina-plakkies. Alles aan haar Wes-Kaapse kunstenaarma te danke, wat nie ’n Spanjaard is nie, maar wat wel met ’n volbloed-Katalaan getrou het. Ook het sy – tot haar ouma se verontwaardiging – haar ma se vreemde ligbruin oë geërf.
By die hysbak waar sy met haar reistas boontoe wil gaan, staan ’n spul jonges soos sardiens ingepers. Selfs ’n grysbaard in ’n rolstoel moet wag vir die hysbak om leeg terug te kom. Hy glimlag verskonend vir haar asof hy hom skaam vir sy volk se tieners.
Sy knik met ’n halfglimlag vir hom, maar haar hak tik-tik onophoudelik die millisekondes af op die ritme van Verdi se “Brindisi”, oftewel die drinklied uit die opera, La Traviata. Die klanke kom van iewers op die volgende vloer af. Die violis ken sy storie.
Nee, geen mens kan so lank wag nie. Sy volg die laaste sleepsel pendelaars met die stel trappe boontoe. Haar tas protesteer. Amper bo. Amper. Uitasem kreun sy die laaste paar trappe uit; die vioolmusiek word dringender, harder soos sy klim.
❤️ Lees nou hier verder: https://loom.ly/8V5n2EA
❤️ Voeg hierdie boek op jou leeslys: https://loom.ly/3VjqXWY