04/09/2026
๐ข ๐๐๐๐๐๐๐๐๐๐๐๐๐๐ ๐๐๐ ๐๐๐๐๐๐๐๐๐๐๐ ๐๐๐๐๐๐๐๐๐ ๐๐๐ ๐๐๐๐๐๐๐๐๐
Die Touwsrivierder en skoolhoof van Hoรซrskool Laingsburg, Riaan Carolison , is verlede week as die eerste naaswenner in die kategorie Excellence in Secondary School Leadership deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangewys.
Vir Carolison, โn voormalige skoolhoof van De Kruine Sekondรชr in Touwsrivier, is die provinsiale erkenning veel meer as net โn toekenning. Dit is โn bevestiging van โn lewenspad wat in Touwsrivier begin het โ โn pad wat deur geloof, harde werk, diensbaarheid en die mense wat van jongs af in hom geglo het, gevorm is.
Hoewel die erkenning hom aanvanklik oorweldig het, was sy eerste reaksie een van dankbaarheid. โMy eerste gedagte was een van dankbaarheid teenoor God. Ek glo opreg dat God my op hierdie pad geplaas het en my deur elke fase van my lewe gelei het,โ het Carolison gesรช.
Vir hom gaan die erkenning egter nie bloot oor โn persoonlike prestasie nie. โEk sien dit nie net as โn persoonlike toekenning nie, maar as erkenning vir die hele Hoรซrskool Laingsburg-gemeenskap.โ
Volgens Carolison is โn skoolhoof nooit alleen verantwoordelik vir โn skool se sukses nie. Hy het die personeel, leerders, ouers, skoolbeheerliggaam en die breรซr Laingsburg-gemeenskap bedank vir hul rol in die skool se ontwikkeling.
โHierdie erkenning is nie myne alleen nie. Ek deel dit met almal wat deel is van my reis, almal wat in my geglo het en almal wat saam met my werk om elke dag โn verskil in die lewens van ons leerders te maak.โ
โ๐ง ๐๐๐ฎ๐ง ๐ฏ๐๐ง ๐๐จ๐ฎ๐ฐ๐ฌ๐ซ๐ข๐ฏ๐ข๐๐ซ
Carolison se sukses dra besondere betekenis vir Touwsrivier, die dorp waar hy grootgeword het en waar hy volgens hom die waardes ontwikkel het wat vandag steeds sy leierskap bepaal.
โEk is baie trots daarop om โn Touwsrivierder te wees. My grootwordjare in Touwsrivier het my gevorm en my baie belangrike waardes geleer โ waardes soos respek, harde werk, nederigheid, deursettingsvermoรซ en omgee vir ander mense.โ
Hy onthou veral die rol wat sy ouers en grootouers in sy ontwikkeling gespeel het.
โMy pappa, Oupa Johnny, en my mamma, Ouma Sophie, was die hoekstene van my lewe. Hulle was nie net die reisbeplanners van my lewe nie, maar ook die twee mense wat altyd in my bly glo het. Hulle het my geleer om nie bang te wees om groot te droom nie, maar terselfdertyd nederig te bly en hard te werk vir dit wat jy wil bereik,โ sรช hy.
Die plaaslike skole het eweneens โn belangrike rol in sy ontwikkeling gespeel. Carolison het reeds as jongmens verskeie leierskapsgeleenthede gekry, onder meer as sportkaptein, hoofseun en voorsitter van die Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL).
โHierdie geleenthede het my baie vroeg reeds geleer van verantwoordelikheid, diensbaarheid, spanwerk en die invloed wat โn leier op ander mense kan hรช.โ
Ook die Lutherse Kerk het volgens hom โn belangrike rol in sy vorming gespeel en bygedra tot sy geestelike ontwikkeling en begrip van diensbaarheid.
Hierdie vroeรซ ervarings het โn blywende invloed gehad op die manier waarop hy vandag โn skool lei. โVir my gaan โn skool nie net oor akademiese uitslae nie. Dit gaan oor mense. Dit gaan daaroor om elke leerder โn geleentheid te gee om te groei en te glo dat hulle, ongeag waar hulle vandaan kom, โn toekoms kan bou.โ
๐๐๐ข๐๐ซ๐ฌ๐ค๐๐ฉ ๐ฐ๐๐ง๐ง๐๐๐ซ ๐๐ข๐ง๐ ๐ ๐ฆ๐จ๐๐ข๐ฅ๐ข๐ค ๐ซ๐๐๐ค
Vir Carolison is goeie leierskap egter nie net sigbaar wanneer โn skool sukses vier nie. Dit word volgens hom juis getoets wanneer dinge moeilik raak. โEen van die grootste uitdagings as skoolhoof is om โn skoolgemeenskap deur moeilike tye te lei terwyl jy steeds hoop, stabiliteit en โn duidelike visie moet behou.โ
Hy sรช onderwysleiers word daagliks gekonfronteer met uitdagings wat nie noodwendig in prestasieverslae sigbaar is nie โ van beperkte hulpbronne en die uiteenlopende sosiale omstandighede van leerders tot die druk waaronder personeel en skole funksioneer.
Hierdie uitdagings het hom geleer dat leierskap nie beteken dat โn mens altyd al die antwoorde moet hรช nie. โWare leierskap beteken soms dat jy moet luister, ondersteuning moet vra, moeilike besluite moet neem en steeds kalm en gefokus moet bly wanneer dinge nie volgens plan verloop nie.โ
Sy geloof het hom volgens hom ook deur moeilike tye gedra. โDit het my geleer dat โn mens nie alles alleen hoef te dra nie en dat daar waarde is in geloof, gebed en vertroue wanneer die pad moeilik raak.โ
โ๐ง ๐๐จ๐จ๐๐ฌ๐ค๐๐ฉ ๐๐๐ง ๐๐จ๐ฎ๐ฐ๐ฌ๐ซ๐ข๐ฏ๐ข๐๐ซ ๐ฌ๐ ๐ฃ๐จ๐ง๐ ๐ฆ๐๐ง๐ฌ๐
Wanneer Carolison terugkyk op sy reis vanaf Touwsrivier tot by die hoof van โn hoรซrskool en nou โn provinsiale erkenning vir sy leierskap, is hy dalk die trotsste daarop dat hy nooit vergeet het waar hy vandaan kom nie.
โEk bly trots op waar ek vandaan kom en op die mense, skole, kerk en gemeenskap wat โn rol gespeel het om my te vorm.โ
Sy reis het hom ook geleer dat leierskap nie oor โn titel gaan nie, maar oor diensbaarheid en die verskil wat โn mens in ander se lewens kan maak.
En daarom het hy โn eenvoudige maar kragtige boodskap vir jongmense in Touwsrivier en ander kleiner gemeenskappe: โJou beginpunt bepaal nie jou eindpunt nie. Moet nooit d**k dat waar jy vandaan kom, bepaal hoe ver jy kan gaan nie,โ sรช hy.
Hy moedig jongmense aan om in God en hulself te glo, hard te werk, bereid te wees om te leer en nie moed op te gee wanneer dinge moeilik raak nie. โJou drome mag dalk groter wees as jou huidige omstandighede โ en dit is heeltemal reg.โ
Volgens Carolison gebeur sukses nie oornag nie, maar is dit die gevolg van klein besluite, harde werk, dissipline, geloof en volharding oor โn lang tyd.
Vir diรฉ Touwsrivierder is sy provinsiale erkenning daarom nie โn eindbestemming nie, maar eerder โn herinnering dat daar steeds werk is om te doen. โDaar is altyd nog werk om te doen, nog kinders om te inspireer en nog doelwitte om te bereik.โ
Sy grootste wens is dat jongmense sal aanhou droom, aanhou werk en glo dat hulle ook โn verskil in hul gemeenskappe en die wรชreld kan maak.
โSoms moet jy net die moed hรช om die eerste tree te gee, vertrou op die pad wat voorlรช en nooit ophou glo in die persoon wat jy kan word nie.โ