30/05/2025
Wingerd FM sê dankie – en totsiens, vir eers...
Liewe vriende en luisteraars,
Met ’n swaar, maar dankbare hart deel ons vandag dat Wingerd FM op Sondag 1 Junie 2025 sal afskakel.
Ons het tot die uiterste probeer aanhou – vir julle, vir die droom, en vir die gemeenskap wat ons so liefhet. Maar finansiële druk, ’n tekort aan hulpbronne en die onklaar raak van een van ons belangrikste rekenaars het dit eenvoudig nie meer moontlik gemaak om voort te gaan nie.
Ons wil vandag elke luisteraar en ondersteuner opreg bedank vir julle lojaliteit, liefde en betrokkenheid oor die jare. Julle het hierdie stasie ’n tuiste gemaak vir soveel mense.
En dan – ’n baie spesiale dankie aan elke vrywillige omroeper wat ooit voor ’n mikrofoon gesit het. Of jy vir ’n kort ruk saam met ons was of tot die einde probeer vasbyt het – ons sien jou, ons waardeer jou, en ons eer jou. Julle het jul tyd, energie en harte gegee – sonder vergoeding – omdat julle geglo het in hierdie droom. Ons sal dit nooit vergeet nie.
Hierdie is nie noodwendig die einde nie – dalk net ’n rusperiode. Ons dra nog steeds die droom in ons harte. En wie weet, dalk laat hoor Wingerd FM weer sy stem in die toekoms.
Tot dan – dankie, dankie, dankie.
Met liefde en opregte waardering,
Die Wingerd FM-span